Jesaja – Die Here regeer oor Assirië! – Francois Malan

37:21-29 Die Here is God wat regeer en beskik ook oor die Assiriërs

37:21 Die gedig is die antwoord van die Here op Hiskia se gebed om verlossing, maar  spreek eintlik die koning van Assirië, wat vir Sion met geweld gedreig het, aan.

37:22 ‘Die maagdelike dogter van Sion verag jou en lag jou uit; agter jou skud die dogter van Jerusalem haar kop’ Die gedig begin met die bevestiging dat Jerusalem Assirië verafsku en nie geïntimideer is deur  hulle growwe grootpratery nie. Dit spruit waarskynlik uit hulle vertroue op die Here.

37:23 Dit gaan oor meer as die stad Jerusalem se reaksie. Sanherib het die Heilige van Israel verkleineer deur Hom met die gode van ander volke, wat geen ware gode is nie, te vergelyk. So het hy die Heilige gesmaad, soos Hiskia gebid het (37:4). Dit is godslastering, soos Jesaja gesê het (37:6). Hy is egter die lewende God. Sanhererib se arrogansie het hom verhinder om dit van die aktief teenwoordige God wat aan Israel toegewy is (v16), raak te sien.

37:24-25 is ‘n opsomming van die hoofadjudant en Sanherib se toesprake waarin Sanherib alles vir homself toe-eien: Ek het…berge opgery; Ek het…seders afgekap; Ek het…bosse binnegedring; Ek het…water gegrawe; my sole het … riviere laat opdroog. Hy erken nie dat die Here hom gestuur het nie (36:10; vgl. 29:2-3). Totaal sonder selfbeheersing het die koning van Assirië nie die doel van die Here opgemerk nie, en God se skepping en sy mense verniel. Die gebrek aan selfbeheersing is tipies van ongetemde supermagte wat niks ontsien om hulle magsbehepte planne uit te voer nie…en dan spog Sanherib nog oor sy vernietiging van God se skepping. Daarmee kla hy homself aan.

37:26-29 Sanherib se hoogmoedige ‘ek’ kom teen die Here te staan, wat sê: Ek het dit bewerk…Ek het dit voorberei … Ek het dit nou laat gebeur…Ek weet hoe jy te kere gaan…Ek moes jou woorde aanhoor…Ek sit ‘n haak deur jou neus (soos vir ‘n bul)…’n stang tussen jou tande (soos vir ‘n perd)…Ek lei jou terug…(nie meer bruikbaar vir die taak waarvoor jy gestuur is nie).

Dink wat die Heilige, die Toegewyde aan Israel, die teenwoordige Ek is, die lewende God, kan doen!  Alles waaroor Sanherib spog is die werk van die Here! Dit was nie soseer Assirië se mag nie, maar die ineenstorting van die gemeenskappe nog voor Assirië daar gekom het (v27), wat aan hom die oorwinnings gegee het. En nou spog hy asof dit hy is en hy verkleineer die Here. Die Here weet Sanherib het sy mandaat oorskrei (10:6-7). Hy het egter gedink hy is verhewe bo die heerskappy van die Here (36:20; 10:15). In verse 28-29 sê die Here twee maal: Jy het jouself opgewerk teen My (te kere gegaan teen My). Hy het al meer arrogant geword en homself oortuig hy kan die Here oorwin, daarom moes die Here ’n haak deur sy neus sit om die kwaai bul, wat Hom wil verpletter, te tem en die wilde perd in te breek om hom weg te lei van Jerusalem af, terug na sy eie land met ’n berig oor ’n opstand wat daar broei.

Die gedig stel die wil van die Here teenoor die wil van Assirië. Maar dit is geen stryd nie. Die Here is die regeerder oor mens en skepping. Sy heerskappy verwyder die Assiriese bedreiging van Jerusalem

Skrywer:   Prof Francois Malan