Jesus, die Leermeester

God’s sovereignty does not negate our responsibility to pray, but rather makes it possible for us to pray with confidence. —Jerry Bridges

Jesus, die Leermeester

Jesus se gebruik was om mense te leer – in die sinagoges en tempel, langs die see, op die vlaktes en op berge. Die mense was verbaas oor sy onderrig – vol wysheid en gesag. Tog het baie, insluitend sy dissipels, nie altyd verstaan wat Hy hulle geleer het nie. Baie het ook sy onderrig verwerp: Toe hulle dit hoor, het baie van Jesus se dissipels gesê: “Wat Hy nou sê, is darem te erg. Wie kan daaraan gehoor gee.” … Hieroor het baie van sy dissipels omgedraai huis toe en nie meer saam met Hom gegaan nie (Johannes 6:60 – 66). Ons lees dat selfs Petrus Hom by geleentheid tereggewys het: Toe het Petrus Hom opsy geneem en Hom begin berispe (Markus 8:31).

 

Dit is duidelik dat mense Jesus se onderrig verskillend beleef het: Hy het die mense in die sinagoges geleer, en almal het met lof van Hom gepraat  (Lukas 4:15). Ander sê weer: Jy is van die duiwel besete (Johannes 7:20). Hulle wou Hom selfs doodmaak oor wat Hy hulle geleer het. Die Jode was verbaas en het gesê: “Waar kom Hy aan die geleerdheid? Hy het dan geen opleiding gehad nie (Johannes 7:16)

Jesus het verskillende metodes gebruik om die mense te onderrig:

  • Deur gelykenisse. Jesus leer baie dinge deur gelykenisse – beide om te onderrig en te veroordeel (Markus 4:10 – 20). Party van sy gelykenisse  gaan oor interpersoonlike verhoudings – die verlore seun en die barmhartige Samaritaan; ander  gelykenisse word op ‘n landbou en ekonomiese basis gebou – die saaier.
  • Deur vrae te vra en te antwoord. In die sinagoge vra Jesus vir die Fariseërs: Mag die mens op die sabbatdag goed doen of kwaad doen, iemand red of doodmaak (Markus 3;4). Dawid noem Hom dus ‘Here’; hoe kan hy dan sy seun wees? Lukas 20:44). So antwoord Hy vrae oor belasting en die grootste gebod.
  • Deur kommentaar op die Skrif te lewer. In Lukas 4 lewer Jesus in die sinagoge by Nasaret kommentaar op Jesaja 61:1 – 2 en 58:6. In Matteus 5:21 – 48 lewer Hy kommentaar op die Pentateug.
  • Deur seën- en ellende-uitsprake.  Geseënd is julle wat arm is … maar ellende wag vir julle wat ryk is (Lukas 6:20 – 26).
  • Deur sy boodskap te kontekstualiseer. Jesus gebruik die voorwerpe om Hom om sy boodskap te verduidelik – Herodes se tempel (Johannes 2:18 – 21); Jakob se put (Johannes 4); die vyeboom wat nie vrugte dra nie (Matteus 21:19 – 22).
  • Deur wondertekens te doen. Hy genees die verlamde man om ander te leer dat Hy gesag het om sondes te vergewe (Markus 2:10 – 11). Hy dryf ‘n bose gees uit en volg dit op met ‘n les oor die koninkryk van God (Lukas 11:14 – 20)

Hoe het Jesus sy onderrig gesien? Marta, jy is besorg en bekommerd oor baie dinge, maar net een ding is nodig. Maria het die beste deel gekies, en dit sal nie van haar weggeneem word nie (Lukas 10:42). Wat is hierdie beste ding wat nie van Maria weggeneem kan word nie? Om aan Jesus se voete te sit en te luister na sy onderrig.