Jesus en die geldwisselaars

 

“While you are proclaiming peace with your lips, be careful to have it even more fully in your heart.” – Franciskus van Assisi

Jesus en die geldwisselaars

Hierdie episode, ook bekend as die reiniging van die tempel, is algemeen bekend. Meeste geskiedkundiges erken dat hierdie gebeurtenis werklik gebeur het. Daar is egter twee vrae wat ons moet beantwoord.

  1. Wanneer het hierdie gebeurtenis plaasgevind?

Die Evangelie volgens Johannes plaas hierdie gebeurtenis aan die begin van Jesus se openbare bediening (2:13 – 22). Die ander evangelies plaas dit heelwat later. Die probleem is dat Matteus, Markus en Lukas net een besoek van Jesus aan Jerusalem beskryf. Hulle kon hierdie gebeurtenis net tydens Jesus se besoek geplaas het. Meeste geskiedkundiges volg Markus se plasing. Die gevolg van hierdie gebeurtenis is dat die Romeine in Jesus begin belangstel het. Hiermee word die gebeure wat tot Jesus se gevangeneming en kruisiging gelei het, aan die gang gesit. Paasfees met sy fokus op vrylating van vyandige onderdrukking, was dikwels die tyd vir probleme. Selfs ‘n kleinskaalse simboliese optrede in die tempel, sou die Romeine se aandag getrek het.

 

  1. Wat was die betekenis van hierdie tempeloptrede?

Het Jesus sy selfbeheer verloor? Beide die evangelies van Johannes en Markus beskryf dit as ‘n gebeurtenis wat beplan is – nie ‘n skielike impulsiewe besluit nie. In Markus 11:11 – 19 lees ons dat Jesus die tempel besoek het, maar tot die volgende dag wag voor Hy iets doen. In Johannes gebruik Jesus tyd om eers ‘n sweep van toutjies te maak.

 

Is die reiniging van die tempel dalk die regte betekenis? As die verkoop van diere op die tempelterrein plaasgevind het, moes dit in die buitenste hof, die sogenaamde Hof van die Heidene, plaasgevind het. Die mis van diere het heilige plekke onrein gemaak. Maar die teenwoordigheid van heidene het in ieder geval die plek onrein gemaak. Jesus het in ieder geval met mense wat ritueel onrein was geëet.

 

Moontlik maak Jesus beswaar teen die minagting van die nie-Jode. Jesus maak veral beswaar teen die gebrek aan respek vir die plek van aanbidding deurdat kommersiële aktiwiteite daar plaasgevind het. In Markus haal Jesus Jesaja 56:7 aan as Hy die mense teregwys: My huis sal ‘n huis van gebed vir al die nasies wees. Johannes fokus op die tempel wat in ‘n besigheidspel verander word. Hy mag hier na Sagaria 14:21 verwys: Daardie dag sal daar in die huis van die Here die Almagtige geen handelaar meer wees nie. Hierdie kan as die twee kante van dieselfde muntstuk gesien word.

 

Antieke tempels was nie so stil soos ‘n katedraal nie. Dit was luidrugtig en besig. Die verkoop van diere was tog noodsaaklik vir die hoof funksie van die tempel – die offer van diere. Dit was ‘n risiko om diere die hele pad van die huis te bring. Mense het dikwels ‘n dier by die huis verkoop en by die tempel ‘n plaasvervanger gekoop. Die geldwisselaars was daar om verskillende geldeenhede na ‘n standaard geldeenheid te wissel. Beide die verkoop van diere vir offers en die betaling van die tempelbelasting is deur die Joodse wet voorgeskryf. Dit was belangrike funksies van die tempel.

 

Omdat Jesus mense en diere wat noodsaaklik was vir die funksionering van die tempel uitgegooi het, sien sommige mense dit as ‘n simboliese optrede wat die vernietiging van die tempel voorspel. Net daarna in Johannes 2:19 sê Jesus: Breek hierdie tempel af en in drie dae sal Ek hom oprig. Jesus het geweet dat die tempel vervang gaan word met die volmaakte koninkryk van God.