Jesus se broers – Francois Malan

Wessel vra

Goeie dag. Ek erken dat my Bybel kennis nie goed is. Julle skrywe verduidelik vrae baie mooi en dit is hoekom ek hulp vra met die volgende.

In die Bybel soos in Johannes 19:26
word daar gepraat van die dissipel wat Jesus liefehad het maar sonder naam. Is
dit nie “James”, sy broer? Hy het ook gepreek oor Jesus en so ver ek
weet is hy ook van n muur afgegooi en gestenig vir sy preeke.

Word hy en Jesus se ander broers en
susters nie opsetlik nie baie oor gepraat omdat toe die boeke van die Bybel
bymekaar gesit is, die belangrikeid van Jesus se famielie nie wou beklemtoon
word nie?

Baie dankie by voorbaat.

Antwoord

Prof
Francois Malan antwoord:

1 Die dissipel vir wie Jesus
liefgehad het .

In hoofstukke 1-12 van die Evangelie
volgens Johannes, word na Johannes en Jakobus, die seuns van Sebedeus verwys as
dissipels van Jesus. Van hoofstuk 13-21 word na ‘die dissipel vir wie Jesus
liefgehad het’, verwys in 13:23-26; 19:25-27; 20:1-10; 21:1-14,20-24. In
18:15-16 word verwys na ‘die ander dissipel.’

Die vroeë kerk het ‘die dissipel
vir wie Jesus liefgehad het,’ beskou as dieselfde persoon as Johannes, die seun
van Sebedeus. Daar is egter in die loop van die geskiedenis van die kerk baie
vrae of dit dieselfde persoon is. Maar niemand weet vir
seker
wie ‘die dissipel vir wie Jesus liefgehad het’ was nie en
waarom dit nie in die Evangelie uitgespel is nie. Waarom begin die skrywer van
die Evangelie homself van hoofstuk 13 af ‘die dissipel vir wie Jesus liefgehad
het’ noem en in die eerste twaalf hoofstukke net Johannes? 

Die ‘ander dissipel’ van Joh
18:15-16 wat bekend was by die hoëpriester in Jerusalem, kon seker nie die
visserman Johannes, seun van Sebedeus van Joh 21:2 wees nie (vgl. Matt  4:21 en Lukas 5:10).

2 Jakobus

Die Jakobus waarna jy verwys was
nie die dissipel Jakobus, die seun van Sebedeus nie. Dié broer van die dissipel
Johannes is volgens Handelinge 12:1-2 deur Herodes Agrippa I met ’n swaard laat
doodmaak. 

Johannes en Jakobus was broers,
seuns van Sebedeus en ook ongeletterde vissers (Mark 1:19-20; Hand 4:13). Hulle
was neefs van Jesus. Markus 6:3 noem die ander kinders van Maria. Johannes en
Jakobus se ma, Salome, was Maria se suster as jy die volgende twee tekste
vergelyk: Mark 15:40 sê Salome het by die kruis gestaan, en Joh 15:25 sê: Jesus
se moeder se suster het by die kruis gestaan. Jesus het die twee seuns
Boanerges genoem, seuns van die donder (Mark 3:7; vgl Luk 9:54). Jakobus,  die broer van Johannes was die eerste
apostelmartelaar (Hand 12:2).

Jakobus die broer van Jesus, word
in Markus 6:3 genoem as een van Jesus se broers. Die broers van Jesus het eers
nie in Jesus geglo nie (Joh 7:5), maar na Jesus se hemelvaart vertel Handelinge
1:14 dat hulle saam met Maria en die apostels volhard het in gebed.

Jakobus, die broer van Jesus, word die
leier van die gemeente in Jerusalem nadat die apostels uit die stad moes padgee
weens die vervolging teen hulle (Hand 12:1-3,17).  Paulus noem hom eerste as een van die pilare
van die kerk saam met Sefas en Johannes (Gal 2:9), as leier van
die gemeente in Jerusalem (vgl. Gal 2:12) en dat Jesus na sy opstanding aan
Jakobus verskyn het (1 Kor 15:7). By die Jerusalemvergadering van apostels en
ouderlinge het Jakobus die laaste woord gehad en die besluit van die
vergadering geformuleer (Hand 15:13-21). Met Paulus se terugkoms in Jerusalem
na sy derde sendingreis kom doen hy verslag aan Jakobus en die ouderlinge (Hand
21:18). Jakobus skryf ook die brief van Jakobus in die Nuwe Testament.
Hy rig die brief aan die twaalf stamme in die verstrooiing, die gelowige
Jode wat buite Palestina woon. Hy noem homself ’n dienskneg van God en die Here Jesus Christus (Jak 1:1).
Eusebius skryf dat Hegisippus vertel het dat die priesters hom van die toring
van die tempel afgegooi het, dat hy vir hulle gebid het en dat hulle hom met
klippe gegooi het en een hom met ’n knuppel
oor die kop doodgeslaan het omdat hy van die toring af verkondig het dat Jesus
aan die regterhand van God sit en weer met die wolke sal kom (vgl. Luk 22:69;
21:27). Hy is toe, volgens die tradisie, op die
tempelterrein begrawe.

’n Ander broer van Jesus was Judas (Mark 6:3), wat die brief van Judas begin met ‘Judas, dienskneg van Jesus Christus en broer van Jakobus (Judas 1:1). Hierdie Judas moet nie verwar word met Judas Iskariot wat vir Jesus verraai het nie.

Skrywer: Prof Francois Malan