Jesus se dood en Jona

Jesus se dood en Jona – Francois Malan

Petro vra:

Graag wil ek weet Jesus verwys na Sy dood dat dit soos Jona s’n is wat drie dae in die vis se maag was en dan weer uitgespoeg is, maar ons glo dat Jona lewend was die drie dae in die vis tog glo ons dar Jesus dood was vir drie dae.

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

 

Volgens Markus 8:11-12 vra die Fariseërs van Jesus ‘n teken uit die hemel om Hom te toets. Jesus antwoord met ‘n diep sug in sy binneste: ‘Waarom vra hierdie geslag ‘n teken? Voorwaar, Ek sê vir julle: Aan hierdie geslag sal beslis geen teken gegee word nie.’

 

Volgens Matteus 16:1-4 is dit die Fariseërs en Sadduseërs wat die teken uit die hemel van Jesus vra. Jesus sê: ‘n Bose en owerspelige geslag vra ‘n teken, maar geen teken sal aan hulle gegee word nie, behalwe die teken van Jona.’

 

Volgens Lukas 11:29-32 sê Jesus vir die skare: Hierdie geslag is ‘n slegte geslag. Hulle vra ‘n teken, maar geen teken sal aan hulle ggee word nie, behalwe die teken van Jona. Netsoos Jona vir die mense van Nineve ‘n teken was, so sal die Seun van die Mens ‘n teken wees vir hierdie geslag. Die mense van Nineve sal in die oordeel saam met hierdie geslag opstaan en dit veroordeel, omdat hulle op grond van die prediking van Jona tot bekering gekom het, en waarlik, wat hier is, is meer as Jona.

 

Volgens Matteus 12:38-41 vra van die skrifkenners en Fariseërs dat hulle graag ‘n teken van Jesus wil sien. Hy het hulle geantwoord:’n Bose en owerspelige geslag vra ‘n teken, maar geen teken sal aan hulle gegee word behalwe die teken van die profeet Jona nie. Want net soos Jona drie dae en drie nagte in die ingewande van die seemonster was, so sal die Seun van die Mens drie dae en drie nagte in die hart van die aarde wees. Die mense van Nineve sal in die oordeel saam met hierdie geslag opstaan en hulle veroordeel, omdat hulle op grond van die prediking van Jona tot bekering gekom het, en waarlik, wat hier is, is meer as Jona.

 

Markus 8 praat van ‘n teken, sonder verwysing na Jona.

 

Matteus 16 noem slegs die teken van Jona, sonder verduideliking.

 

Lukas 11 betrek die skare se versoek om ‘n teken op die prediking van Jona teenoor die prediking en optrede van Jesus onder hulle.

 

In Matteus 12 antwoord Jesus die skrifkenners en Fariseërs se begeerte na ‘n teken met ‘n vergelyking tussen Jona se drie dae en drie nagte in die ingewande van die seemonster met die Seun van die Mens se drie dae en drie nagte in die hart van die aarde, en betrek die prediking van Jona teenoor die prediking en optrede van Jesus onder hulle.

 

Dit gaan in nie een van die gevalle oor ‘n vergelyking tussen die dood van Jesus teenoor ‘n biddende Jona in die ingewande van die vis nie. (Jesus noem Homself telkens in die Evangelies ‘die Seun van die Mens’ na aanleiding van  Daniël 7:13-14).

 

Die vergelyking tussen Jesus en Jona gaan oor ‘n tyd wat God beperk tot enkele dae en nagte wat Jona in die ingewande van die monstergroot vis was om hom tot inkeer te bring,  en Jesus in die hart van die aarde sal wees om die dood te oorwin, die dood wat oor die skepping en die ganse mensdom gekom het en ingelei is deur die ongehoorsaamheid van Adam en Eva (Genesis 2:17) sodat Jesus die ganse mensdom ‘n bose geslag noem wat hulle rug op God gedraai het om self soos God te wees (Genesis 3:4-6) deurdat elke mens vir homself lewe en nie soos hy/sy bedoel is om vir God te lewe nie, ‘n owerspelige geslag wat die ware God verlaat het en die ganse skepping saam met ons aan die dood onderwerp het (Romeine 8:22-23).

 

Maar die eintlike vergelyking gaan oor die prediking van God se profeet Jona, wat die woord van God aan die heidense stad Nineve gebring het en hulle reaksie daarop. Hulle het hulle tot God bekeer. Maar toe Jesus, wat die Woord van God is, wat self God is (Johannes 1:1-3), mens geword het om die ware God aan die mense bekend te maak, wil mense Hom nie glo en aanvaar as die Here van hulle lewe nie.  

 

Daarom   sal die mense van Nineve in die oordeel saam met hierdie geslag opstaan en hulle veroordeel, omdat hulle op grond van die prediking van Jona tot bekering gekom het, en waarlik, wat hier is, is meer as Jona.

 

Dié mense wat die woord van God in die Ou Testament geglo het, en sedert Jesus se koms in Hom glo, word nie veroordeel nie, maar wie nie glo nie, staan reeds veroordeel omdat hulle nie in die Naam van die enigste Seun van God geglo het nie (Johannes 3:18).

 

Prof Francois Malan