Jesus se geboortedatum

JESUS SE GEBOORTEDATUM

Kersfees veronderstel dat Jesus op 25 Desember van die jaar een gebore is. Die feite is egter dat ons nie weet presies wanneer Jesus gebore is nie. Die artikel beredeneer die gegewens rondom die geboortejaar en -maand van Jesus. 

Elke jaar op 25 Desember herdenk ons die geboorte van Jesus. Hieruit volg logies dat Jesus, volgens ons Christelike jaartelling, op 25 Desember van die jaar een gebore is. Reg? Verkeerd!

Ons bekyk eers Jesus se geboortejaar. Die Matteus-evangelie (2:1) berig dat Jesus tydens die regering van koning Herodes gebore is. Herodes die Grote is hier ter sprake. Uit buite-Bybelse bronne weet ons dat sy regeertyd van 37-4 vC gestrek het. Jesus is dus minstens voor die dood van Herodes in 4 vC gebore. Maar hoe lank voor 4 vC? Matteus 2:16 help ‘n bietjie. Volgens dié teks het Herodes die Grote opdrag gegee dat alle seuntjies onder die ouderdom van twee jaar doodgemaak word. So wou hy seker maak dat Jesus ook gedood word. Ten tye van die opdrag kon Jesus dus nog nie twee jaar oud gewees het nie. Dat hierdie gruweldaad nie te lank voor Herodes se eie dood plaasgevind het nie, word deur die verdere verloop van gebeure aangedui.

Jesus het die dood vrygespring toe sy ouers met hom na Egipte gevlug het. Hulle het eers teruggekeer toe Herodes oorlede is en sy seun, Argelaos, hom opgevolg het (Matteus 2:22). Argelaos het van 4 vC tot 6 nC geregeer. Hoe lank Jesus en sy ouers in Egipte was, weet ons nie, maar die indruk word gewek dat Jesus nog klein was by hulle terugkeer. Ons kan dus sê dat Jesus nie te lank voor 4 vC gebore is nie, waarskynlik tussen 7-4 vC.

Die Lukas-evangelie het ook inligting oor die geboortejaar van Jesus. Oënskynlik is sy inligting baie presies. Lukas 2:2 sê dat Jesus gebore is tydens die volkstelling toe Sirenius goewerneur was in die provinsie Sirië. Die probleem is egter dat ons uit buite-Bybelse bronne van geen volkstelling in die tyd van Herodes weet nie. Volgens die Joodse geskiedskrywer, Josefus, het die volkstelling onder Sirenius eers in 6-7 ná Christus plaasgevind. Dit maak Jesus se geboortejaar van tien tot veertien jaar later as wat ons uit Matteus kan aflei.

Dit is dus uiters moeilik om die gegewens van Matteus en Lukas met mekaar te versoen. Vermoedelik het daar wel ‘n sensus in Herodes se tyd plaasgevind. En in later tye is hierdie sensus toe met die meer bekende een onder Sirenius verwar. Dit bly dus nog die beste om die geboortejaar van Jesus tydens die laaste deel van Herodes se regeertyd te plaas, in 7-4 vC.

Maar hoe kom mens by ‘n vóór-Christus-datum vir Jesus se geboortejaar uit? Is Hy dan nie in die jaar een gebore nie? Hierdie toedrag van sake moet op die rekening van Dionisius Eksiguus geplaas word. Hy was ‘n monnik van Rome, afkomstig uit die provinsie Skitië. In 526 nC het hy die opdrag ontvang om eenvormigheid te bring in die verskillende kalenders waarmee destyds na kerklike feesdae verwys is. Dit het op ‘n nuwe kalender uitgeloop, beginnende by Christus se geboortejaar as die jaar een. Dionisius het Jesus se konsepsie bereken as die 25e Maart van die jaar 754 sedert die stigting van Rome. Dit is toe geneem as die jaar een van die Christelike era. Eeue later is egter ontdek dat Dionisius ‘n paar berekeningsfoute gemaak het en die geboortejaar van Jesus met ongeveer vier tot sewe jaar oorskry het. Niemand het egter daarvoor kans gesien om die kalender aan te pas nie. Dus, hoe onlogies ook al, bly ons by Jesus se geboortejaar as 4-7 vC.

Maar waar kom ons aan die geboortemaand van Jesus as 25 Desember? Die beste verklaring is die een wat 25 Desember neem as die ver-Christeliking van die ou heidense fees van sol invictus (die onoorwinlike son). In die noordelike halfrond is 25 Desember ongeveer die tyd van die son se verste suidelike draaipunt. En dit het altyd met groot feesvieringe gepaardgegaan. Algaande het die Christene hierdie fees vir Jesus, die eintlike onoorwinlike Son van geregtigheid, toegeëien. Vandaar dat ons nog steeds die geboorte van Jesus elke jaar op 25 Desember herdenk. Maar in watter maand Jesus werklik gebore is, weet ons nie. Dit was waarskynlik êrens gedurende die warmer maande van die noordelike halfrond, veral as ons Lukas se gegewens rondom die herders in die oop veld in gedagte hou. So ‘n situasie pas eerder in die warmer maande as in die koue Desember.

Ons weet dus nie presies wanneer Jesus gebore is nie. Maar dit maak nie regtig saak nie. Solank ons net glo dat die ware Lig wat elke mens verlig, na die wêreld gekom het. Hierdie Lig skyn in die duisternis, en die duisternis kan dit nie uitdoof nie (Johannes 1).

 

Skrywer: Prof Hermie C van Zyl