Jesus se “vrou”

image_pdfimage_print

My happy conviction is that pastors ought not to be experts on everything. —John Piper

 

Jesus se “vrou”

Sedert die ontdekking van die sogenaamde gnostiese evangelies by Nag Hammadi in 1945 kry ons kort-kort ‘n alternatiewe siening van Jesus se lewe. Ons dink byvoorbeeld aan die evangelies van Tomas, Petrus, Maria en Judas. Vrae ontstaan: Is verhale van Jesus doelbewus uit die Nuwe Testament uitgelaat? Was alternatiewe sienings van die Christendom onderdruk? Gee die evangelies in die Bybel werklik ‘n akkurate prentjie van Jesus?

 

 

Nou is nog ‘n nuwe manuskrip ontdek. Dit is ‘n fragment uit die vierde eeu geskryf in Kopties. Op een plek lees ons: Jesus sê vir hulle, ‘My vrou …’ Hierdie fragment is klein (4 X 8 cm). Karen King van Harvard Universiteit het hierdie manuskrip bestudeer en tot die gevolgtrekking gekom dat dit eg is.

 

Wat moet ons van hierdie manuskrip maak? Michael J. Kruger sê dat daar ‘n paar dinge is wat ons moet oorweeg:

  • Egtheid

Vervalsings is baie algemeen as ons na antieke dokumente kyk. In hierdie dokument is daar dinge wat pla. Daar is kenners wat die egtheid van die fragment bevraagteken veral omdat van die letters vreemd gevorm is. Hierdie skeptisisme word vererger omdat daar onsekerheid is oor waar die dokument ontdek is en die identiteit van die anonieme eienaar. Alhoewel daar vraagtekens oor die egtheid van die dokument is, kan dit nie sommer as ’n vervalsing beskou word nie – meer kundiges moet dit eers ondersoek.

 

  • Samestelling

As hierdie dokument eg sou wees, is daar vrae oor die samestelling daarvan:

  • Met watter soort dokument het ons hier te doen? Dit lyk soos ‘n “evangelie” wat stories en gesegdes van Jesus bevat. Dit lyk asof Jesus, soos in baie ander tekste, hier met sy dissipels praat.
  • Wat is die datum van die storie in hierdie fragment?  King sê die datum is die middel van die tweede eeu, want daar is ooreenkomste tussen hierdie dokument en die Evangelies van Tomas en Filippus wat tydens hierdie tyd geskryf is. Dit is natuurlik nie noodwendig die geval nie. Die dokument kon heelwat later geskryf gewees het – daar is net van hierdie ouer dokumente gebruik gemaak. Wat wel duidelik is, is dat daar niks is wat sou dui op ‘n datum in die eerste eeu nC nie. Dit is dus lank na die tyd van die apostels geskryf.

 

  • Historiese waarde

Vertel hierdie  dokument vir ons enigiets van hoe Jesus werklik was. Bewys dit dat Jesus ‘n vrou gehad het? Verskaf die dokument betroubare geskiedkundige inligting? Nee. Dit is laat geskryf; dit is nie op die getuienis van ooggetuies gebaseer nie. Waarskynlik kry dit sy inligting van ander apokriewe tekste soos Tomas en Filippus.

 

Daar is nie ‘n enkele geskiedkundige bron uit die vroeë Christendom wat daarop dui dat Jesus getroud was nie – nie in die evangeliese of apokriewe evangelies nie, niks in die geskrifte van die kerkvaders nie, niks elders nie.

 

  • Sameswerings en die kanonieke evangelies

Almal hou van goeie samesweringsteorieë. Die apokriewe boeke is deur die vroeë Christene verwerp. Die kanon is nie sommer arbitrêr deur die kerk in die vierde of vyfde eeu saamgestel nie. Die kerk het slegs bevestig wat reeds vir baie jare die geval was – reeds van vroeg af is die vier evangelies wat ons in die Bybel kry deur die Christene aanvaar. Net die vier evangelies in die Bybel se datum van oorsprong is in die 1ste eeu nC. As ons wil weet hoe Jesus was, is dit beter om te kyk na die evangelies wat geskryf is toe daar nog ooggetuies van Jesus se tyd geleef het. Net vier evangelies voldoen aan daardie standaard.

 

Wat is ons gevolgtrekking? Op hierdie stadium moet ons aanvaar dat ons hier met ‘n latere dokument te doen het en dat die inhoud daarom nie betroubaar is nie. Ons kan dus aanvaar dat Jesus nie getroud was nie.

 

 

 

image_pdfimage_print

You may also like...