Jesus verlaat die hemel om vir ons te sterwe

 

Bad men need nothing more to compass their ends, than that good men should look on and do nothing.” – John Stuart Mills

Jesus verlaat die hemel om vir ons te sterwe

‘n Engel kom by Maria en sê vir haar dat sy geboorte aan die Messias sal gee. Wat was Maria se reaksie? Onthou sy het nog nie vir Jesus ontmoet nie – Hy was nog nie gebore nie. Sy kry ‘n wonderlike boodskap wat beskryf  wie Jesus is en wat Hy sal doen. Sy reageer op ‘n wonderlike manier. In haar voorbeeld kry ons insigte in hoe ons moet reageer oor al die dinge wat ons aangaande Jesus gehoor het. Daarvoor gaan ons na Lukas 1:26 – 45 kyk.

 

Wat sê die engel vir ons aangaande Jesus? Hy sal groot wees en die Seun van die Allerhoogste genoem word. Dit beteken dat Jesus baie meer is as net ‘n volgeling van God. Die engel sê verder: En Hy sal as koning oor die nageslag van Jakob heers tot in ewigheid. Tot in ewigheid? Die engel weet dat Maria nie weet wat om te glo nie, en daarom herhaal hy dit net op ‘n ander manier: Aan sy koningskap sal daar geen einde wees nie.

Die engel gaan nou verder met sy aankondiging aan Maria:

  • Die Heilige Gees sal oor jou kom, en die krag van die Allerhoogste sal die lewe in jou wek. Daarom sal die een wat gebore word, heilig genoem word, die Seun van God. God se goddelike natuur sal in hierdie kindjie ingeplant word. Hy sal heilig en sonder sonde vir altyd lewe. God word mens toe sy Seun die menslike natuur aanvaar en fisies in hierdie wêreld gebore word.
  • Jy moet Hom die naam Jesus gee. Jesus beteken God wat red. In sy Naam sien ons die uniekheid van die Christelike geloof – daar is ‘n groot waarheid in sy Naam ingebind. Elisabet sê vir Maria: Gelukkig is sy wat glo dat in vervulling sal gaan wat die Here vir haar gesê het!  Hy wat gebore gaan word, is die Here.

Hierdie moes sekerlik ‘n skok vir Maria gewees het – beide sosiaal en teologies. Maria was waarskynlik ongeveer 14 jaar oud op hierdie stadium. Hulle was arm. Toe hulle Jesus bring om besny te word, kon hulle slegs twee duiwe offer. Hulle sou haar ook sosiaal verwerp het omdat sy swanger was. Hierdie jong, arm, onteerde swanger, ongetroude, plattelandse meisie beklee vandag ‘n besondere plek in die geskiedenis. Hoekom? Oor die manier waarop sy op God en sy boodskap gereageer het.

  • Sy dink – sy gebruik haar rede

Sy was verwonderd oor die woorde en het gewonder wat die begroeting tog kon beteken.  Wat beteken dit alles? Maria besin oor hoe alles gaan uitwerk. Sy sukkel om te verstaan. Ons moet onthou dat sy Joods was. ‘n Boodskap van ‘n mens wat Goddelik sal wees, sal sy, en die ander Jode, nie kon verstaan nie. Dit was vir haar net so moeilik om die boodskap te verstaan as wat dit vandag nog vir ons moeilik is.

  • Sy spreek haar twyfel openlik uit

Hoe is so iets moontlik? Sy spreek haar twyfel openlik teenoor ‘n engel uit. Sy is eerlik oor haar onsekerhede en vrae. Sy is nederig, maar as jy eerlik twyfel is jy oop vir oortuiging. As Maria nie gevra het nie, sou die engel nooit een van die grootste waarhede gesê het nie: Niks is vir God onmoontlik nie.

 

  • Maria gee haarself volledig oor

Ek is tot beskikking van die Here. Laat met my gebeur wat u gesê het. Ons wil altyd oor die koste van dissipelskap onderhandel; ons wil self besluit oor watter dinge ons bereid is om op te gee. Ons kan nie vooraf alles weet wat God van ons gaan vra nie. Daarom vereis dit moed en gewilligheid om sy wil te doen. Maria doen afstand van haar reg om self te besluit. Ons moet die Here onvoorwaardelik gehoorsaam en beheer van ons lewens aan Hom oorgee.

  • Sy bespreek alles met Elisabet

Ons lees dat Elisabet met die Heilige Gees vervul is. Sy help Maria om te verstaan dat sy die moeder van die Here is. Dit moes gehelp het, want net daarna bars Maria in ‘n loflied uit – die bekende Magnificat: Ek besing die grootheid van die Here, ek juig oor God, my Verlosser. Maria verstaan eers werklik nadat sy met ‘n medegelowige gepraat en saam aanbid het.