Johannes die Doper se doop

Johannes die Doper se doop – Coen Slabber

Christene beskou die dooppraktyk van Johannes die Doper as die voorloper van die Christelike doop. Hulle het dieselfde terminologie gebruik en dieselfde doel (die vergewing van sondes) gehad. Dit is juis hierdie kenmerkende praktyk wat aan Johannes sy naam gegee het: Doper of die een wat ondergedompel het.

Johannes se doop en die Joodse reinigingsprosedures het basies dieselfde tema gehad: reiniging. Soos die profete het Johannes reinheid met geestelike reiniging verbind. [Was julle, reinig julle. Moenie voor My verskyn as julle verkeerd doen nie. Hou op met kwaad doen – Jesaja 1:16; Ek sal reinigingswater oor julle uitgooi sodat julle rein kan word. Ek sal julle reinig van al julle onreinheid en van julle afgodery – Esegiël 36:25] Johannes se doop was baie sterk aan bekering gekoppel (Markus 1:4; Lukas 3:3; Handelinge 13:24, 19:4). Hierdie selfde band kry ons ook by die Christelike doop: Toe antwoord Petrus hulle: “Bekeer julle en laat elkeen van julle gedoop word (Handelinge 2:38).

Wat Johannes se doop van die Joodse reinheidspraktyke onderskei het, was dat dit ‘n unieke, eenmalige ritueel was en nie gereeld herhaal is nie. Die betekenis wat hy aan die doop gegee het – bekering en vergifnis – was ook uniek. In sy doop kry ons ook die aankondiging van die Messiaanse eindtyd: Hy het sy skop in sy hand en Hy sal sy dorsvloer deur en deur skoonmaak. Sy koring sal Hy na die skuur toe bring, maar die kaf sal Hy met ‘n onblusbare vuur verbrand (Matteus 3:12).

Hoe het Johannes gedoop? Ons kan aflei dat dit deur onderdompeling was, maar hoe dit gedoen is, weet ons nie. Ons lees in Markus 1:10 dat Jesus uit die water gekom het wat op onderdompeling mag dui. Die feit dat Johannes by die Jordaan-rivier gedoop het, impliseer dat hy baie water nodig gehad het om te doop. Toe Johannes by Enon gedoop het, lees ons waar daar baie water was (Johannes 3:23). Die Joodse praktyk was self onderdompeling – jy het self onder die water gegaan. In Johannes se doop het die persoon hom nie self gedoop nie. Johannes doen dus iets anders as wat die Jode gedoen het.

Sy oproep vir bekering was om die mense voor te berei vir God se oordeel wat sou kom. Die uitgangspunt van Johannes se doop was bekering; die doel van sy doop was die vergifnis van sonde. Waar Johannes se doop van dié van Christene verskil, was dat dit ‘n belydenis van sonde en nie van geloof was nie. In die Christelike doop word die naam van Jesus ook bygevoeg en ons kry ook die belofte van die Heilige Gees wat ons nie by Johannes kry nie. Hoekom die verandering? Ons weet nie maar moontlik is die idee dat jy nie jouself kan reinig nie.

Kom ons kyk wat sê die evangelies:

Markus 1:2 – 8 is kort, maar maak al die noodsaaklike punte: Johannes was die stem in die woestyn wat uitroep en die pad vir die Here gereed maak; hy het ‘n asketiese leefstyl gevolg; groot getalle het gekom om deur hom gedoop te word; sy doop gaan gepaard met bekering, belydenis en vergifnis van sonde; hy kondig aan dat die Messias sou kom en met die Heilige Gees sou doop. Vir Markus begin die verhaal van Jesus Christus by die bediening van Johannes die Doper. Vir die Jode is vergifnis iets wat deur die offers by die tempel verkry is – nie deur doop nie.

In Matteus 3:1 – 12 was Johannes se boodskap bekeer julle. Dit was dringend, want die koninkryk van die hemel het naby gekom. Hy waarsku die Jode dat die feit  dat hulle Abraham as voorvader het hulle nie sal red nie. God se oordeel sal diegene tref wat nie vrugte dra wat bewys dat hulle bekeer is nie. Bekering vereis resultate – vrugte. Johannes doop hulle omdat julle julle bekeer het en hulle hulle sondes bely het. Die doop was ‘n voorbereiding vir die koms van die Here – Johannes se meerdere en die Een wat met die Heilige Gees en met vuur sou doop. Vuur verwys gewoonlik na oordeel en straf, maar ook na reiniging. Hierdie was dit die vuur van die eindtyd wat die goddeloses sou vernietig. Die regverdiges (die koring) sal in God se skuur bymekaar gemaak word.

Lukas 3:1 – 20 kom in baie opsigte ooreen met die beskrywing in Matteus – dit is net meer uitgebreid. Hierdie uitbreiding is veral ten opsigte van die opdragte wat Johannes aan die skare, die tollenaars en die soldate gee. Dit beskryf in werklikheid die vrugte wat bewys dat julle bekeer is. Bekering sluit dus ‘n sekere leefwyse in. Lukas sê niks van Johannes se kleredrag en dieet nie. Hy verwys na die skare as julle slange. Johannes word hier beskryf as die brug tussen die oue (die wet en die profete) en die nuwe (die goeie nuus van die koninkryk van God). Lukas verwys later na Jesus se verwysing na Johannes (7:28 – 30): Onder die mense op aarde is niemand gebore wat groter as Johannes is nie. Jesus beklemtoon die belang van die doop.

Johannes (1:19 – 37)  fokus  sy beskrywing op Johannes se getuienis van Jesus. Toe die Fariseërs vir Johannes vra waarom hy doop, antwoord hy hulle: Ek doop met water, maar tussen julle staan daar Iemand vir wie julle nie ken nie. Dit is Hy wat na my kom, wie se skoene ek nie werd is om los te maak nie. In 1:33 lees ons dat Hy met die Heilige Gees doop. Johannes se doop openbaar die Seun van God – Johannes moes van Hom getuig. Uit die woordewisseling tussen Johannes se volgelinge en ‘n Jood (3:25) is dit duidelik dat Johannes se doop verskil van die doop van die Jode.


Wat is die betekenis van Johannes se doop?

(1) Dit dui op die wegdraai van die ou weg na ‘n nuwe lewensweg.

(2) Dit bemiddel goddelike vergifnis.

(3) Dit reinig van onreinheid – ritueel en moreel.

(4) Dit is ‘n voorafskaduwee van die verwagte Messias.

(5) Dit is die inisiëring van die “ware” Israel – die nuwe mense van God.

(6) Dit was ‘n protes teen die tempel establishment deurdat dit ‘n alternatiewe manier van vergifnis van sonde aanbied.

 

Dit bring ons by ‘n belangrike vraag: Waarom is Jesus deur Johannes gedoop? Daaroor skryf ons volgende keer.


Bibliografie

Ferguson, Everett (2009): Baptism in the Early Church. William B. Eerdmans Publishing Company.

 

Skrywer: Dr Coen Slabber