Johannes die Doper

Johannes die Doper – Coen Slabber

Die evangelie volgens Lukas is ons enigste bron oor die geboorte en kinderjare van Johannes. Hy is gebore in die bergstreek van Juda (Lukas 1:39). Sy vader was ‘n priester (Sagaria) en sy moeder was Elisabet, ‘n afstammeling van Aäron. Beide ouers was getrou aan die wet van God en het onberispelik al die gebooie en voorskrifte van die Here onderhou (1:6). Sy geboorte word deur ‘n engel in die tempel aan Sagaria aangekondig. Vir Elisabet, wat onvrugbaar was, was dit die antwoord op haar gebede. Die engel sê ook vir Sagaria dat hy die seuntjie Johannes moes noem.  Reeds voor sy geboorte kondig die engel aan dat hy ‘n volk vir die Here sal voorberei (1:17). Elisabet word as ‘n bloedverwant van Maria beskryf (1:36).

Van Johannes se kinderjare weet ons baie min. Die kindjie het opgegroei en sterk geword deur die Gees en het in die woestyn gebly tot op die dag van sy openbare verskyning in Israel (1:80). Die Evangelie volgens Markus begin nie met die geboorteverhaal van Jesus nie. Dit begin met die optrede van Johannes die Doper – die man wat die pad vir die Here gereed moes maak (Markus 1:3). Markus sê dat hy in die woestyn opgetree het en ongewone klere gedra het.

Jesus verwys na hom as Elia wat reeds gekom het (Markus 9:11 – 13). Hierdie verwagting kry ons reeds in Maleagi 4:5 – 6: Ek gaan vir julle die profeet Elia stuur voordat die dag van die Here kom, die groot, die verskriklike dag. Elia sal vaders en kinders met mekaar versoen sodat Ek nie hoef te kom en die land heeltemal vernietig nie. Jesus ben Sirag, ‘n wysgeer, getuig ook van hierdie verwagting: Die Ou Testament sê die Here het ‘n tyd bepaal wanneer jy (Elia) weer die mense sal kom waarsku en jy sal die Here se woede en straf kom keer. Jy sal ouers en kinders versoen en die stamme van Jakob weer herstel (48:10).

Johannes trek ook aan op ‘n manier wat aan Elia herinner: klere van kameelhaar met ‘n leerband om sy heupe, en hy het van sprinkane en veldheuning gelewe (Markus 1:6). Net soos Elia moeilikheid met die koning se vrou (Isebel) gehad het, het Johannes ook moeilikheid met Herodes se vrou – Herodias.

Maar wie het Johannes gedink  is hy? Ek is nie die Christus nie (Johannes 1:20). Toe hulle aandring om te weet wie hy is, sê hy: Ek is die een wat in die woestyn roep: Maak die pad vir die Here reguit. Dit is soos die profeet Jesaja gesê het.

Die openbare bediening van Jesus en dié van Johannes die Doper verloop naby mekaar in die evangelies. Van Johannes se volgelinge het nie besef dat hy die “voorloper” van Jesus was nie. In Handelinge 19:1 – 5 kom Paulus op ‘n groepie gelowiges af. Hy wil by hulle weet of hulle al die Heilige Gees ontvang het. Toe hulle ontkennend geantwoord het, vra hy vir hulle watter soort doop hulle ontvang het. Hulle antwoord hom: Die doop van Johannes.

Wat was die betekenis van Johannes se bediening? Johannes het die mense in die Jordaanrivier gedoop. Reiniging deur water was ‘n belangrike deel van die alledaagse lewe van die Jode. In baie huise was daar ‘n mikveh – ‘n klein klipbad uitgekap in die grond. Mense het in die poel geklim, is ondergedompel in die water en as hulle uitkom, was hulle rein. Ook op die tempelterrein was daar poele vir die reiniging van diegene wat die heilige plekke moes binnegaan.

‘n Mens kan Johannes se doop sien as ‘n rituele voorbereiding vir die verskyning van die Here. Saam met die belydenis van hulle sonde en bekering, is Johannes se doop gesien as voorbereiding vir die Een wat na my kom … my meerdere. [‘n Volgende artikel gaan meer volledig na Johannes se doop kyk.]

In die Christelike tradisie word Johannes  as ‘n voorganger gesien – die boodskapper wat vooruit gestuur is en wat die pad vir die Here gereed en reguit maak. Lukas (3:1 – 17) brei verder uit op Johannes se bediening. Die boodskap wat Johannes verkondig het, het uit drie elemente bestaan:

(1) ‘n Waarskuwing van ‘n naderende  oordeel deur die Een wat kom.

(2) Bekeer julle en laat julle doop en God sal julle sondes vergewe.

(3) ‘n Oproep dat hulle hulle bekering in ‘n konkrete etiese manier moet uitleef – hulle moes met mekaar deel.

Markus beskryf die dood van Johannes in besonderhede (6:17 – 29). Herodes neem Johannes gevangene op aandrang van sy vrou, Herodias. Dit was omdat Johannes Herodes berispe het omdat hy met haar getrou het: U mag nie u broer se vrou vat nie. Een aand, tydens ‘n feesmaal, dans die dogter van Herodias vir Herodes en sy gaste. Herodes sê vir haar: ”Vra my net wat jy wil hê, en ek sal dit vir jou gee. Hy beloof dit onder eed. Haar versoek: Die kop van Johannes die Doper. Johannes is onthoof.

In Markus 3:6 lees ons dat die Fariseërs en Herodiane ‘n komplot teen Jesus gesmee het om Hom om die lewe te bring. Herodes was baie onseker oor wie hierdie Jesus was: Johannes is uit die dood opgewek, is een van die moontlikhede (Lukas 9:7). Dit lyk asof die lot van die voorganger ‘n voorafskaduwing van die bestemming van Jesus was.

In ‘n volgende artikel gaan ons na die doop van Johannes die Doper kyk.

 

Skrywer: Dr Coen Slabber