Julle sal my getuies wees

 

Any preacher who attacks evil will have opposition. – A.T. Robertson

 

Julle sal my getuies wees

Die tema van verkondiging kom algemeen in Handelinge voor. In Handelinge 1:8 sê Jesus vir sy dissipels dat hulle in Jerusalem moet bly totdat die Heilige Gees oor hulle kom, want dan sal hulle krag ontvang om sy getuies te wees. Hoe het die apostels getuig? In Handelinge lees ons die Griekse woord vir getuig 13 keer. Hieruit kan ons begin aflei van hoe ‘n getroue getuie lyk.

 

In Handelinge leer ons vyf waarhede in verband met getuig.

 

  1. Om te getuig is persoonlik

Jesus vertel vir sy disspels: Julle sal my getuies wees. Die gawe van die Gees is die gawe van Jesus se teenwoordigheid bemiddel deur die Gees. Hierdie Gees sal met hulle en in hulle wees. Daarom sal die dissipels sy persoonlike getuies wees. Getuies getuig oor dit wat hulle weet. In hierdie geval is dit Wie hulle ken. Mense wat nie die Here ken nie, kan nie getuig nie. Getuies word sterker as hulle in liefde en kennis van Hom wat hulle verlos het, groei.

 

  1. Getuienis gaan primêr oor die opstanding

Daar moet dus nog ‘n getuie van Jesus se opstanding by ons gevoeg word (1:21). Hierdie is die eerste verwysing na die inhoud van die getuienis in Handelinge. Om Judas te verplaas, was een van die vereistes dat die persoon ‘n ooggetuie van Jesus se opstanding moes wees. As ons getuig moet ons nie net van ‘n liefdevolle God, ‘n Christus wat sondes vergewe, praat nie. Jesus is die Here wat gesterf het om vergifnis te verkry deur sy dood en opstanding. Handelinge beklemtoon Jesus se opstanding … en ons moet dit ook doen.

 

  1. Getuienis sentreer op Christus

Getuienis fokus op Christus se opstanding, maar ook op alles wat Hy gesê en gedoen het. En ons is getuienis hiervan (5:32). Wat is hierdie hiervan? Dit kry ons in verse 30 – 31: Die God van ons voorvaders het Jesus uit die dood opgewek nadat julle Hom vermoor het deur Hom aan die kruis te hang. God het Hom verhoog tot Leidsman en Verlosser aan sy regterhand, sodat Hy Israel tot bekering kan bring en hulle sondes kan vergewe. Christus sit aan die regterhand van God vanwaar Hy sy Gees stuur om verlossing en bekering te bring. Hierdie waarhede moet verkondig word.

 

In Handelinge 10:39 – 43 beklemtoon Petrus die hoogtepunte van die evangelie: hulle het Hom doodgermaak deur Hom aan ‘n kruis te hang; God het Hom uit die dood opgewek; Hy het aan mense wat God gekies het om getuies daarvan te wees, verskyn; Hy gee opdrag dat sy dissipels aan die volk moet bevestig dat Hy deur God aangestel is as Regter oor lewendes en dooies; dat dié wat in Hom glo vergewing van sondes sal ontvang. Dit is duidelik dat ons nie besluit om getuies van Christus te wees nie – God kies ons. Christus is die middelpunt van ons boodskap, maar Hy is ook die Bron van ons boodskap.

 

  1. Getuienis gaan gepaard met die getuienis van die Gees

En ons is getuienis hiervan, ons en die Heilige Gees wat deur God gegee is aan dié wat aan Hom gehoorsaam is (5:32). Reeds in 1:8 het Jesus belowe dat hulle deur die Gees krag sal ontvang om van Hom te getuig. Ons kan nie Christus sonder die Heilige Gees verkondig nie. Om te getuig is nie iets wat ek in my eie krag doen nie – dit vereis die werk van die krag van die Gees in my. Om te getuig vereis geloof, gebed en die krag van die Gees.

 

  1. Die doel van getuienis is die verlossing van ander en nie net die verspreiding van inligting nie

God verlos, nie ons nie. Beteken dit ek kan so ‘n paar wyshede oor die evangelie kwytraak en dan alles verder aan God oorlaat? Ons moet die evangelie kragtig verkondig: En nou verkondig ons aan julle die goeie boodskap dat God die belofte aan die voorvaders vir ons, hulle nageslag, vervul het deur Jesus uit die dood te laat opstaan (10:32 – 33). Hierdie ons waarna hier verwys word, is nou sy getuies by die volk.  In verse 33 – 47 wys Paulus hoe Jesus se opstanding die Ou Testament vervul het. En dan: Toe die heidene dit hoor, was hulle baie bly oor die woord van die Here en het hulle dit toegejuig. Almal wat vir die ewige lewe bestem was, het gelowig geword (13:48).

 

Getuienis is nie iets wat ons doen nie – dit is wie ons is. Ons moet as persoonlike getuies vir Christus lewe – sy opstanding en alles wat Hy gedoen het.