Jy is die man

 

Christians have won an insufferable reputation for always dispensing answers, even when no one has a question –  Os Guinness

 

Jy is die man

Ons kan baie leer uit Natan se konfrontasie met Dawid. Ons weet van Dawid se owerspel met Batseba en sy moord van haar man, Urija.

 

Wanneer was dit? In die lente, die tyd waarin konings gewoonlik optrek om oorlog te maak (2 Samuel 11). Maar Dawid bly in sy paleis. Hy stap op die dak van sy paleis rond en sien ‘n vrou wat bad – Batseba. Hy slaap by haar en sy word swanger. Daarna verseker hy dat haar man, Urija, in die oorlog sneuwel. Dawid laat haal haar en sy word sy vrou. Dawid rasionaliseer sy optrede – al die verskonings was in plek. Al probleem is die karakter van Dawid se God. Dawid se hantering van Urija het Hy raakgesien.

 

Daarna het die Here vir Natan na Dawid toe gestuur. Hoe konfronteer Natan vir Dawid? As Natan hom openlik gekonfronteer het en hom in die skande gesteek het, mag hy maklik dieselfde lot as Urija ervaar het. Hy besluit om eerder ‘n storie te vertel. Hy konfronteer Dawid moreel – sy enigste hoop op sukses. Hy gaan na die koning – die regter en wetgewer van die volk. Hy lê ‘n geval voor hom – iets wat nie suspisie sou wek nie. Ons as lesers vandag ken die doel van die storie en die uitkoms daarvan. Dawid besef nie dat die saak wat Natan voor hom lê fiksie is nie. Daarom dat hy hom bloedig vererg het: So seker as die Here leef, ‘n man wat dit oor sy hart kry om so iets te doen, moet doodgemaak word.

 

Dan Natan se reaksie: Jy is die man!  Ons weet wat die gevolg was. Dawid antwwoord: Ek het gesondig teen die Here. Sy diepe berou sien ons duidelik in Psalm 51. Dawid word herstel. Soos God se oordeel deur Natan vir Dawid konfronteer, word al die lae misleiding en verskonings weggevee – onmiddellik. Dawid staan nou voor die spieël van die waarheid self.

 

Hier het ons ‘n baie goeie voorbeeld van kreatiewe oorreding – en dit was suksesvol! Dawid se  hart en denke was geslote en moes eers oopgemaak word. Natan besluit dat die manier om dit te doen, is deur ‘n storie. ‘n Eenvoudige reguit benadering sou dalk ‘n ander reaksie by Dawid uitgelok het. Een van die basiese beginsels is dat ‘n spreker altyd in ag moet neem waar sy gehoor is. Anders gaan ons nie tot hulle deurdring nie. Ons is so geneig om formules of vrae wat vooraf bepaal word, te gebruik so asof  almal op dieselfde plek is.