Jy mag die Naam van die Here nie misbruik nie

 

Educating the mind without educating the heart is no education at all.” – Aristoteles

 

Jy mag die Naam van die Here nie misbruik nie

Een van die eerste pligte van ouers is om aan hulle kinders ‘n naam te gee. Soms is dit nogal ‘n moeilike taak. Maar een ding is seker: die ouers gaan aan die kind ‘n naam gee! Mense gee nie aan hulleself name nie. Dit word aan ons gegee – dit is ‘n optrede van gesag.

 

Merkwaardig is dat niemand ooit aan God ‘n Naam gege het nie. Hy het sy eie Naam gekies. Ons sê nie vir God wie Hy is nie … Hy sê vir ons wie Hy is. Dit is ‘n teken van soewereine gesag. Sy Naam kom voor alle ander name.

 

In Eksodus 3 vestig God die aandag op sy spesiale verbondsnaam Yahweh (HERE). Hierdie naam openbaar God lank voor Hy die tien gebooie aan Israel by Sinai-berg gee. By die brandende bos vra Moses wat God se Naam is. God gee dit vir hom.

Ek is wat Ek is. Jy moet vir die Israeliete sê: ‘Ek is’ het my na julle toe gestuur. Verder sê God vir Moses: “Jy moet ook nog vir die Israeliete sê: ‘Die Here die God van julle voorvaders, die God van Abraham, die God van Isak, die God van Jakob, het my na julle toe gestuur.’ Dit is ewig my Naam waarmee Ek aangeroep moet word van geslag tot geslag.” (Eksodus 3:14 – 15).

Die Naam wat God geopenbaar het, Yahweh, was sy persoonlike naam. Uit persoonlike ondervinding leer die Israeliete dat hierdie God wat sy Naam aan Moses geopenbaar het ‘n God is wat verlos.

 

Ons sien egter gou dat HERE meer as ‘n naam is – dit is God se identiteit. Dit is hoe die Hebreërs name verstaan het. Vir hulle was ‘n naam onlosmaaklik van die persoon. As ons die naam van God gebruik, verwys ons na die essensie van sy goddelike wese.

 

Die derde gebod is beide negatief en positief. Negatief: dit verbied die misbruik van God se Naam. Die Ou Vertaling sê dat ons nie die Naam van die Here ydelik mag gebruik nie. God se mense word nie verbied om sy Naam te gebruik nie. God gee juis sy Naam aan ons sodat ons persoonlik met Hom kan praat. Om Hom by name aan te roep versterk ons liefdesverhouding met Hom.

 

Wat God wel verbied is die misbruik van sy Naam. Ons mag dit nie ydelik of op ‘n leë manier gebruik nie. Die spesifieke misbruik wat God in gedagte het, is om dit onnadenkend te gebruik asof Hy nie saakmaak nie. God se Naam het ‘n diep geestelike betekenis.- dit is iets heilig en moet as sulks gebruik word.

 

As ons sy Naam misbruik ontken ons sy heiligheid. Enigeen wat dit doen, sal aanspreeklik gehou word: Die Here sal die een wat sy Naam misbruik, nie ongestraf laat bly nie. Die presiese straf word nie genoem nie, maar hier het ons ‘n ernstige waarskuwing. Om sy Naam te misbruik is ‘n direkte aanval op sy eer en heerlikheid. As God sê dat iemand wat sy Naam misbruik aanspreeklik gehou sal word, moet ons dit ernstig opneem.