Kan ek jou vertrou?

 

I am struck by how sharing our weaknesses and vulnerabilities is more nourishing to others that sharing our qualities and successes – Jean Vanier

 

Kan ek jou vertrou?

Greg Gilbert het onlangs ‘n belangrike boek geskryf: “Why Trust the Bible?” Hierdie is vandag ‘n algemene probleem: Mense vertrou nie meer die Bybel nie. Ek gaan ‘n hele aantal blogs aan hierdie boek spandeer.

 

Ons kom nou by ons vierde vraag: Was die oorspronklike skrywers betroubaar? Was hulle oorspronklike bedoeling om ‘n akkurate verslag van gebeure te gee of wou hulle mense mislei?

 

Was die skrywers van die dokumente van die Bybel betroubaar? Die Bybel gee vir ons leidrade dat die skrywers gebeure so akkuraat as moontlik probeer rapporteer het. As hulle dinge nie akkuraat gerapporteer het nie, wat wou hulle dan doen? Was hulle besig om fiksie te skryf? Wou hulle mense doelbewus mislei? Was die skrywers self nie dalk mislei nie?

 

Wat daarvan as die skrywers alles as fiksie bedoel het? Nêrens sê hulle dat hulle fiksie skryf nie. Herhaaldelik sê hulle presies die teenoorgestelde. Hulle sê dat hulle glo wat hulle skryf en wil hê dat ons dit ook moet glo. Kyk hoe begin Lukas sy evangelie: Hulle het dit opgeteken soos dit aan ons oorgelewer is deur die mense wat van die gegin af ooggetuies en dienaars van die Woord was. Daarom het ek dit ook goedgedink om self alles stap vir stap van voor af te ondersoek en die verhaal noukeurig in die regte volgorde vir u neer te skryf. So kan u te wete kom dat die dinge waaroor u onderrig is, heeltemal betroubaar is. Dit is tog duidelik dat hier nie sprake is van fiksie nie. Johannes doen dieselfde: Jesus het nog baie ander wondertekens, wat nie in hierdie boek beskrywe is nie, voor sy dissipels gedoen. Maar hierdie wondertekens is beskrywe sodat julle kan glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God, en sodat julle deur te glo, in sy Naam die lewe kan hê (20:30 – 31). Johannes wil hê dat mense moet glo dat Jesus die Christus is. In 1 Johannes 1 skryf hy: Van die begin af was Hy daar. Ons het Hom self gehoor; ons het Hom met ons eie oë gesien en met ons hande aan Hom geraak … Hom wat ons gesien en gehoor het, verkondig ons aan julle.

 

Die skrywers verwys ook na historiese gebeure wat ons maklik kan bewys. Hulle skrywes pas in by die geskiedenis. Hulle wou werklik gehad het dat ons moet glo wat hulle geskryf het.

 

Wil hulle nie hê dat ons iets moet glo wat nie werklik gebeur het nie? Om so ‘n groot skelmstreek uit te voer, sou haas onmoontlik gewees het. Onthou hierdie 27 boeke is binne ‘n paar dekades na die gebeure geskryf. Hierdie boeke begin sirkuleer toe daar nog baie mense geleef het wat kennis van die gebeure gehad het – hulle het Jesus met hulle eie oë gesien. Hierdie mense sou beswaar gemaak het as hulle sien die skrywers is met ‘n skelmstreek besig. Die teenstanders van die Christelike geloof sou baie gou beswaar gemaak het.

 

Die persone wat die vier evangelies geskryf het, was nie ooglopende keuses nie. Markus en Lukas was nie apostels van Jesus nie. Lukas was ‘n vriend en medereisiger van Paulus, maar hy was nie ‘n prominente leier in die kerk nie. Markus was ‘n vriend en metgesel van Petrus. Hy is veral bekend daarvoor dat hy Paulus in die steek gelaat het. Markus was ‘n apostel, maar voor dit was hy ‘n gehate tollenaar.

 

As die skrywers die mense wou mislei wat was hulle motief? Om ryk te word? Om belangrike posisies in die kerk te beklee? Dan het hulle misluk. Meeste van die apostels is vermoor. Maar daar is ook te veel besonderhede in die evangelies wat hulle verleë sal maak.  Hierdie is nie die soort stories wat jy sommer uitdink nie.

 

Niemand sterf vir fiksie nie; niemand sterf vir ‘n bedrogspul nie. Jy sal hierdie dinge net skryf as jy werklik glo dat wat jy skrywe werklik gebeur het.

 

Ons volgende vraag is:Kan ons seker weet dat wat die skrywers neergeskryf het werklik gebeur het?