Kan oordeel vermy word?

 

Autonomous reason …, reason as the final court of appeal, is the real core of sin, the secret heart of the contradiction in the nature of man.  — Emil Brunner

 

Kan oordeel vermy word?

In Sefanja 1 lees ons van die dag van die Here – die dag van oordeel – wat naby is. In Sefanja 2:3 lees ons egter: Miskien bly julle die straf gespaar op die dag van die toorn van die Here. Hoe kan dit gebeur? Vra na die wil van die Here. Ons moet dit in nederigheid en gehoorsaamheid doen en na geregtigheid streef.

  • Soek die Here in nederigheid

Voor hulle bekering moet die volk eers nederig wees. Dit is ‘n sleutelelement in ons wandel met God. Sefanja sê nie net dat hulle nederig moet wees nie, maar dat hulle na nederigheid moet streef. Die volk was soos alle mense – hulle draai na hulleself. Ons natuurlike neiging is altyd van nederigheid na trots. Trots is die moeder van alle sonde. Die volk moet doodgaan aan hulleself en op God vertrou.

 

  • Soek die Here in gehoorsaamheid

Ons moenie net sonde erken en bely nie, ons moet ons gedrag verander. Hulle moet doen wat die Here wil. Maak nie saak hoe opreg hulle bedoelings is nie, as dit nie deur optrede gevolg word nie, is dit waardeloos. Is brandoffers en ander diereoffers net so aanneemlik vir die Here as gehoorsaamheid aan sy bevel? Nee, gehoorsaamheid is beter as offerande, om te luister is beter as die vet van ramme (1 Samuel 15:22). Ons leef in ‘n tyd waar belydenis algemeen is, maar ‘n verandering in gedrag volg baie selde op ons belydenis.

 

  • Soek die Here in geregtigheid.

God is regverdig. As God regverdigheid soek, soek Hy wat reg is. Sefanja sê dat God se mense na geregtigheid moet streef – hulle moet meer en meer soos Christus word. Streef impliseer ‘n honger en ‘n najaag – iets wat nie dikwels met ons geestelike toestand geassosieer word nie. Ons is te apaties.

 

Hierdie vers herinner ons daaraan dat God goed is al is die tye moeilik. Oordeel kom, maar ook genade.