Ken die Bybel: Feite en geloof

 

“God’s silences are His answers. If we only take as answers those that are visible to our senses, we are in a very elementary condition of grace.” – Oswald Chambers

 

Ken die Bybel: Feite en geloof

Ons gaan voort met Mel Lawrenz se reeks oor hoe om die Bybel te lees. Voordat ons na metodes om die Bybel te bestudeer kyk, moet ons eers vasstel waarom ons die Bybel lees. Dit gaan oor ons gesindheid en motiewe voordat ons na die uitdagende taak om die stem van die lewende God te hoor, oorgaan.

 

Ons kan die Bybel benader as ‘n soeke na feite. Wie het hierdie gedeelte geskryf? Waar was hy toe hy dit geskryf het? Aan wie skryf hy en hoekom skryf hy aan hulle? Wanneer is dit geskryf? Ons kan na geskiedenis, aardrykskunde en taal kyk. Ons moet dit doen, want die enigste manier om die teks deeglik te verstaan is om aandag te gee aan die inhoud en omstandighede van die teks. Dit beteken ons respekteer die skrywer en die inhoud. Ons kan nie sommer net begin lees en wonder watter indruk die woorde sal maak nie.

 

God se woord kom na ons in ‘n verskeidenheid vorme: gedigte en liedere, vergelykings en beelde, evangelies en briewe, ens. Ons lees ‘n gedeelte in sy konteks, want so sien ons sy betekenis.

 

Dit is die een kant van die vergelyking. Ons lees die Skrif om die feite te verstaan, maar ons kan nie daar ophou nie. Ons lees ook die Skrif met geloof. Baie mense stel net in die feite belang en nie in die geloofsreis nie. Nie almal wat die Bybel lees, glo dat hulle na die stem van God luister nie. Ons kan die Bybel as ‘n suiwer akademiese oefening lees. Dan is die Bybel soos enige ander antieke boek. Ons moet die Skrif lees vir feite en geloof.

 

I believe in order that I may understand (Anselmus van Kantelberg – 1033 – 1109). Om die Bybel te ken, is nie die hoofdoel nie. Om God te ken is. Om God te ken moet ons sy selfopenbaring ken. Dit kry ons in die Bybel. Om die Skrif te bestudeer gaan oor feite en oor geloof.