KEN GOD SE LIEFDE

I love mankind! It’s people I can’t stand – Linus, Charlie Brown se vriend. ‘n Mate van waarheid hierin?

Ken God se liefde

Wie kan ons van die liefde van Christus skei? Lyding of benoudheid of vervolging, honger of naaktheid, gevaar of swaard? … Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat ons liefhet (Romeine 8:35, 37).

Op een of ander stadium bevraagteken ons God se liefde vir ons – veral as dinge skeefloop.

Hoe meer ons God se soewereiniteit aanvaar, hoe meer bevraagteken ons sy liefde – hoekom doen Hy nie iets om ons swaarkry te verlig nie? Ons hoef nie tussen God se soewereiniteit en sy liefde te kies nie – die Bybel bevestig beide.

God is liefde (1 Johannes 4:8). Daarmee saam sê Johannes: God is lig (1 Johannes 1:5). [Lig = heilig]. Liefde en heiligheid som God se karakter, soos in die Bybel geopenbaar, op. Omdat God liefde is, is dit ‘n noodsaaklike deel van sy wese om goed te te doen en barmhartigheid aan sy kinders te bewys. Psalm 145 praat oor God se ondeurgrondelike grootheid, dat Hy vol  liefde is en vir almal goed is. Hy is goed vir alles wat Hy geskep het (145:8 – 9, 17). Selfs in sy rol as regter oor opstandige mense sê Hy: Ek wil nie hê die sondaar moet deur sy sonde sterf nie, Ek wil hê hy moet van sy optrede afsien en lewe (Esegiël 33:11).

As rampe ons tref, is ons geneig om aan God se liefde te twyfel. In die proses kom Satan en versoek ons verder. Ons kan nie keer dat ons versoek word nie, maar ons kan God eer deur op Hom te vertrou. Aan die begin van sy swaarkry sê Job: Die Here het gegee en die Here het geneem. Prys die Naam van die Heer (1:21). Later sê Hy: God laat nie aan my reg geskied nie … Dit baat ‘n mens nie om die wil van God te doen nie (34:5, 9).

As ons dan aan God se liefde vir ons twyfel, aan watter waarhede moet ons dan vashou as wapens teen hierdie versoekings?