Kennis en geloof

Kennis en geloof – Francois Malan

Pieter vra:

[Hierdie leser het ‘n vraag gevra oor Calvyn en geloof. Hy vra nou ‘n opvolgvraag oor kennis en geloof]:

Ek wil graag weet wat die VERSKIL tussen geloof en kennis is, byvoorbeeld in die lig daarvan dat die imperatief in die Skrif as ‘n reël is: “Glo!” en nie “Ken!” nie?

Antwoord:

Prof François Malan antwoord:

Slegs enkele opmerkings oor die vraag en die lang stuk wat die vraesteller reeds opgestel het.

  1. Die opdrag om te ken kom wel in verskeie vorms implisiet in die Skrif voor:

Mt 22:37 Jy moet die Here jou God liefhê … met jou hele verstand (dianoia)

1 Petrus 1:13 daarom omgord die lendene van julle verstand – soos ‘n werker met die

Oosterse lang rok wat opgebind moet word sodat hy kan werk of hardloop – impliseer die

werking van jou verstand om insig en kennis te verkry.

Die opdragte om te leer (manthanoo) bv. Mt 11:29 leer van My

Die opdragte om te leer (ginooskoo) bv. Mk 13:28 en vele ander

Die opdragte om op te let (blepoo) bv. Mk 4:24

  1. Pieter spook aan die einde van sy lang stuk oor geloof en kennis met proposisies en logiese verklarings vir geloof en kennis

(1) Is daar in die Skrifgetuienis ondersteuning vir gedagte dat kennis van proposisies as

proposisies nodig is vir geloof?

(2) Watter funksie vervul begrip by kennis van proposisies in hulle hoedanigheid as

proposisies?

(3) Is kennis van proposisies as proposisies deel van die geloofakte of slegs ’n

noodsaaklike voorwaarde?

Met die kennis van God en geloof in God gaan dit egter anders, want ons het met die onkenbare te doen, wat in ontoeganklike lig woon (1 Tm.6:16), ondeurgrondelik is sy oordele, onnaspeurlik sy weë (Rm.11:13).

As God, die Vader, Seun en Heilige Gees, Hom nie self aan ons openbaar nie, kan ons Hom nie ken of in Hom glo nie (openbaring Mt.11:25-27; 16:16-17; 1 Kor.2:10; Vader, Seun en Gees, vgl. Jn.14:26; 15:26; 2 Kor.13:13; Gl.4:6; Tit.3:6; vgl HK vraag 24). God maak Homself kenbaar deur sy Woord, en as mensgeworde Woord is Hy vir ons kenbaar in Jesus Christus (Jesus sê vir Filippus volgens Jn.14:9 hy wat My gesien het (ho heoorakoos pf.part. waarvan die gevolge voortduur) het die Vader gesien (pf. met voortduring).

In Joh.14:6-11 sê Jesus: ‘Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader behalwe deur My nie. As julle My ken (egnookate perfektum: leer ken het en nou ken), sal julle my Vader ook ken. En van nou af ken julle Hom en sien julle Hom…die Vader bly in My…Glo in My omdat Ek in die Vader is en die Vader in My…’

Kennis van God is geloofskennis. Geloof is die totale positiewe verhouding van die mens tot God. God het Homself gegee om deur sy Woord geken te word. Geloof is die mens se draai na God toe (metanoia verandering van denke oor God en jouself; Hebr.6:1 weg van doodswerke tot geloof in God; Hand.26:20 om van denke te verander en na God te draai, doenende (praesens duratief) werke wat waardig/passend is by die verandering van denke; Rom.2:4 God se goedgunstigheid lei jou tot verandering van denke en gedrag. Vgl ook die ander woorde vir bekering: strefoo/epistrefoo die omkeer van jou hele lewe).

Die kennis van God geskied in die vervulling van die openbaring van sy Woord deur die Heilige Gees wat in ons bly en in ons is (Jn.14:17). Die Gees gee in ons die geloof in God (Ef.2:8 want uit genade is julle verlostes deur geloof, en dit nie uit julleself nie, dis die gawe van God; vgl. ook Flp.1:29).

Hy sal julle alles leer didaksai (Jn.14:26; 16:13-15 die Gees van die waarheid sal julle in die volle waarheid inlei hodegeoo; Jesus bring die waarheid en maak dit teenwoordig deur sy koms in die wêreld; die Gees van die waarheid lei ons in hierdie waarheid in en skep vir die gelowiges die ingang daarin; in verse 13-15 word anaggelloo ‘meedeel’, drie maal gebruik) Die Gees lei ons in die geloof in, oortuig ons van die noodsaaklikheid van geloof en van geloofsgehoorsaamheid.

Geloof, as die positiewe verhouding van die mens tot God, kom van God self af. Met sy Woord vereis God die mens se omkeer, sy ‘Ja’-sê vir God. Dit gebeur deurdat die Heilige Gees die klare lig aan die mens skenk om God te ken as sy God. So vind die mens se omkeer plaas. Die kennis van God is in hierdie geloofsgebeure geleë. Daarom sê Calvyn (Inst. III,2,7) geloof ‘is ‘n vaste en seker kennis van God se welwillendheid (benevolentia, sy goeie wil) teenoor ons, wat gefundeer is op die waarheid van sy genadige belofte in Christus, wat deur die Heilige Gees aan ons verstand geopenbaar word en in ons hart verseël/ingeprent word (obsignatur).’

In die geloofsgebeure is egter nie net die kennis van God inbegrepe nie, maar ook die liefde tot Hom (1 Jn.4:7-15), die vertroue op Hom (Mt.11:25-30; 2 Kor 3:4) en die gehoorsaamheid aan Hom (2 Kor 9:13).

 

Skrywer: Prof Francois Malan