Kerkgroei

 

Kerkgroei

85% van gemeentes in die Weste is besig om agteruit te gaan, Bill Easum glo dat die gevolg is van ‘n basiese misverstand oor die kerkgroei beweging. Die kerkgroei beweging onder Donald MaGavran was baies dat die gemeente sou groei deur dissipels wat ander dissipels maak. Al die strategieë het berus op die ondersteuning van die maak van dissipels. Vir MaGavran was evangelisasie en die maak van dissipels van mekaar afhanklik – jy kon nie die een sonder die ander een hê nie. Hy het nooit strategieë vir groei vir strategieë om dissipels te maak verplaas nie.

 

MaGavran het ook die evangelie na diegene wat dit nodig gehad het geneem. Daar was nooit ‘’n element   van aantrekking nie – Christene moes uitgaan na mense wat nog nooit die evangelie gehoor het nie. Die groot kritiek van MaGovren se model was dat dit op homogeniteit berus het.

 

Hierdie model het goed gewerk tot die liberalisering van die Westerse Christendom. Met die liberalisering word evangelisasie ‘n vloekwoord en die maak van dissipels word nou skielik met bywoning van eredienste gelykgestel. Nog erger: God was dood; sonde word met terapie vervang; die ewige lewe word met ‘n goeie lewe vervang’ erediensbywoning word ‘n gewoonte wat min mense geniet het. Die gevolg was ‘n kerk vol nominale Christene – sodra hulle kinders die huis verlaat het, het hulle die kerk verlaat.

 

Met die huidige klem op kerkplanting word die probleem net erger – kerkplanting is nie die oplossing vir die agteruitgang nie. In die VSA het ons nou die situasie dat meer nuwe kerke geplant word as wat daar nuwe Christene is. Ons kry gemeentes by, maar nie juis nuwe Christene nie. Ons verwar weer groeistrategieë met die maak van dissipels.