Kersfees

 

God is too wise to err, to good to be unkind; leave off doubting Him, and begin to trust Him, for in so doing, you will put a crown on His head (Spurgeon).

 

Kersfees

Een van die voordele van die Kersseisoen is dat mense meer oop is om oor Jesus te praat. Mense aanvaar Hom makliker as Hy as ‘n klein baba in ‘n krip voorgestel word. Maar te midde van hierdie geleenthede vir bespreking is daar ook baie misverstande oor Christus se ware identiteit. Dit geld selfs vir Christene Hulle weet dat Hy die Seun van God en hulle Verlosser is, maar verder weet hulle maar min van Hom. Hulle kan nie verduidelik wie Jesus werklik was nie en hoekom hulle in Hom glo nie.

 

Charles Stanley gee vir ons ses Bybelse waarhede oor Jesus se ware identiteit.

  1. Jesus het bestaan voor Hy in sy moeder se baarmoeder bevrug is.

Omdat die Kersverhaal oor sy geboorte gaan, aanvaar mense  dat sy lewe toe begin het. Daarom dat Jesus soveel ontsteltenis veroorsaak toe Hy sê: Voordat Abraham gebore is, was Ek al wat Ek is (Johannes 8:56 – 59). Net voor sy kruisiging, terwyl Hy met sy dissipels was, bid Hy tot die Vader: U My al voor die skepping van die wêreld liefgehad het (Johannes 17:24) Jesus het saam met die Vader geleef voor tyd begin het.

 

  1. Jesus het ‘n aardse moeder en ‘n hemelse Vader gehad

Dit is waarom Hy die Seun van God genoem word. Op die vasgestelde tyd het Hy sy plek in die hemel verlaat en kom die wêreld binne deur die baarmoeder van ‘n maagd. Dit was ‘n noodsaaklike deel van God se verlossingsplan. ‘n Volmaakte offer was nodig om vir die mense se sondes te betaal. Jesus, omdat Hy deur die Heilige Gees bevrug is, het nie Adam se sondige natuur geërf nie. Hy alleen het ‘n volmaakte lewe geleef. Daarom is Hy ons Verlosser.

 

  1. Jesus was beide God en die Seun van God

In die begin was die Woord daar, en die Woord was by God, en die Woord was self God (Johannes 1:1). Dwarsdeur sy bediening sê Jesus dat Hy God is: Ek en die Vader is een (Johannes 10:30). Hy sê verder: Wie My sien, sien ook Hom wat My gestuur het (Johannes 12:45).

 

  1. Die Vader en die Seun het alle dinge gemaak

God het deur Hom alles geskep wat in die hemel en op die aarde is: alles wat gesien kan word en alles wat nie gesien kan word nie … Voor alles was Hy al daar, en deur Hom bly alles in stand (Kolossense 1:16 – 17). Jesus is gebore in die wêreld wat Hy gemaak het.

 

  1. Jesus se Naam is soos geen ander naam nie

Daar is geen ander naam op die aarde aan die mense gegee waardeur God wil dat ons verlos moet word nie (Handelinge 4:12). Dit is een van die redes waarom die wêreld sê dat Christene onverdraagsaam is – hulle verkondig dat Jesus die enigste weg na die Vader toe is.

 

  1. Jesus sal een dag na die wêreld terugkeer as die Koning en Regter oor alle mense

Nou sal Hy egter nie as ‘n hulpelose baba kom nie. Kyk, Hy kom op die wolke, en al die mense sal Hom sien (Openbaring 1:7). Jesus was nie ‘n gewone baba nie. Dit was nooit die bedoeling dat Hy een maal per jaar as deel van ‘n storie ten toon gestel sal word nie.

 

Jesus is baie groter as wat mense dink. Kersfees is die ideale geleentheid om sy ware identiteit aan ander te vertel. God open deure vir ‘n gesprek oor sy Seun. Skraap jou moed bymekaar en stap deur daardie deur. Dit is die belangrikste boodskap wat die wêreld moet hoor, want Hy is ons enigste hoop.