Kersfees is meer as een dag

 

Once in our world, a stable had something in it that was bigger than our whole world – C. S. Lewis

 

Kersfees is meer as een dag

[Advent = naderende koms van Christus. Ad – na + venire – kom – HAT)

Christene, en selfs nie-Christene, vier Kersfees as Jesus se geboortedag. Of Jesus werklik op 25 Desember gebore is of nie, sy verjaardag bly die grootste fees in die geskiedenis. Maar wat van Advent – die vier weke wat Kersfees voorafgaan? Is dit nodig om hierdie opbou tot Kersfees te vier.

 

As ons na die geboorteverhale in Matteus en Lukas sowel as die proloog in Johannes kyk, sien ons dat die koms van die Messias oor ‘n lang tyd deur veral die profete aangekondig is. Jesus se koms is gretig afgewag deur baie Jode destyds.

 

  1. Antieke verwagting

Die storielyn van die Bybel bou op na die klimaks van die geboorte van die Messias. Adam en Eva het pas van die verbode vrugte geëet of God belowe: Haar nageslag sal jou kop vermorsel (Genesis 3:15). Hierdie Messias sou ‘n nakomeling van Abraham en Dawid wees.

 

  1. Eeue van wag

Voordat dinge beter word, word dit egter eers erger. Die ryk van Israel word verdeel; die volk word in ballingskap weggevoer. Na 70 jaar ballingskap keer van die Israeliete terug na hulle land. Die tempel word herbou. Kenmerkend van hierdie tyd is dat die profetiese stem geleidelik stiller word. Die priesters word meer korrup.

 

  1. Langverwagte geboorte

Die tafel is gedek vir die koms van die Messias. Matteus begin sy evangelie  deur Jesus bekend te stel as die Seun van Dawid, die Seun van Abraham. Lukas sê Jesus is die Seun van Adam en die Seun van God. ‘n Menigte antieke beloftes word vervul. Johannes sê dat Jesus die Woord is wat mens geword het. Kersfees herdenk die lang verwagte geboorte van die Messias, maar daar is meer as net die dag van Jesus se geboorte.

 

  1. Die groter Kersverhaal

Die onderliggende uitgangspunt van Advent is duidelik: Jesus se geboorte het nie in ‘n lugleegte plaasgevind nie. Sy koms was die vervulling van millennia van toenemende verwagting van die koms van die Messias en Verlosser van die mensdom. As ons hierdie groter storie in gedagte hou, verstaan ons die aankondiging van die engele in sy volle Bybelse konteks:

Moenie bang wees nie, want kyk, ek bring vir julle ‘n goeie tyding van groot blydskap wat vir die hele volk bestem is. Vandag is daar vir julle in die stad van Dawid die Verlosser gebore, Christus die Here! (Lukas 2:10 – 11).

Hierdie was nie ‘n gewone kind nie; hierdie was nie ‘n gewone geboorte nie. Hierdie is die bekendste aankoms in die geskiedenis van die wêreld. Dit is die aardse begin van God se evangelie in persoon wat lei tot verlossing van sonde, lyding en dood. Dit is te groot om in een dag vasgevang te word.

 

Advent is dus vier weke van voorbereiding en vreugde. Ons staan in verwondering oor die koms van God self om mense te verlos. Advent se vier weke van eerbied is ‘n goeie plek om te begin.