Keuses, keuses, keuses

 

To move freely you must be deeply rooted. -Bella Lewitsky

 

Keuses, keuses, keuses

Om keuses te maak en aan te beweeg met ons lewens raak toenemend moeiliker. Dikwels is ons skoon verlam en kan geen keuse maak nie. 1 Konings 18 beskryf ‘n kritiese besluit. Hier kry ons die God van Israel teen die profete van Baäl. Elia vra die mense om te kies: Hoe lank hou julle aan met hink op twee gedagtes? As die Here God is, volg Hom; maar as dit Baäl is, volg hom (18:21). Dan volg hierdie betekenisvolle vers: Die volk het hom nie ‘n woord geantwoord nie. Hulle wil op die draad sit – hulle opsies oop hou.

 

En ons? Neem ons ‘n vaste besluit sonder die moontlikheid om om te draai of maak ons ‘n keuse wat ons in staat sal stel om terug te draai? Dan aanbid ons die god van oop opsies. Ons behou vir ons die reg voor om ons opsies oop te hou – op alle lewensterreine.

 

Hoekom gebeur dit? Ons vereis keuses/opsies. Ons glo dat hoe meer opsies ons het, hoe meer vryheid het ons. Die probleem is dat hierdie onbeperkte keuse ons nie juis gelukkiger maak nie. Die aantal keuses oorweldig ons en maak dit moeilik vir ons om ons aan iets of iemand toe te wy. Hoe meer opsies ons het, hoe banger word ons om te kies. Ons is bang ons maak ‘n fout – daarom weier ons om ‘n keuse te maak. Doen ons dit aanbid ons ‘n vals god. Sy naam is oop opsies.

 

Om nie te kies nie, is ‘n keuse. Die Israeliete het gesien dat die ware God hulle van slawerny bevry het. Die Egiptiese gode was magteloos teen Hom. Tog in 1 Konings 18 aanbid hulle ‘n god wat binnekort verslaan gaan word. Is ons anders? Ons is deur Christus se dood en opstanding van die slawerny van sonde verlos. Maar ons aanbid steeds van die gode wat God oorwin het. Ons aanbid steeds die god van oop opsies. Maar hierdie god vernietig ons verhoudings, want hy vertel vir ons om nie te betrokke te raak nie. Hy maak ons diens aan ander dood, want hy vertel vir ons om eerder ons naweke tot ons beskikking te hou. Hy maak ons bydraes dood, want hy vertel vir ons om in hierdie onseker tye vas te hou aan ons geld – ons weet nooit wanneer ons dit nodig sal hê nie. Hy maak ons vreugde in God dood, want hy vertel vir ons dat mense ons darem nie as te geestelik moet sien nie.

 

Die probleem dat ons nie eers bewus mag wees daarvan dat ons die god van oop opsies aanbid nie, want hy gee voor dat hy nie ‘n god is nie. Nee, hy beloof vir ons vryheid van alle gode en van verantwoordelikhed; geen toewyding nodig nie; totale vryheid.

 

Net so het die Israeliete nie gedink dat toe hulle niks geantwoord het nie, hulle  besig met afgodery was nie. Maar toe hulle besluit om nie te kies nie, het hulle ‘n keuse gemaak. Deur te weier om op te tree, draai hulle hulle rug op God. God het ons nie gemaak om ons opsies oop te hou nie; Hy het ons nie gemaak om in vrees vir besluite te lewe nie.

 

Dit is goed om versigtig te wees met ons keuses – om te bid, raad in die Bybel en by volwasse Christene te soek. Maar daar kom ‘n punt waar om langer te wag nie meer wys is nie. Nou word dit ‘n gebrek aan vertroue in God. Wees wys, maar as jy ‘n besluit geneem het, vertrou op God se soewereiniteit en goedheid.

Maar ‘n mens moet gelowig bid en nie twyfel nie, want iemand wat twyfel, is soos ‘n brander in die see wat deur die wind aangejaag en heen en weer gedryf word. So ‘n mens wat altyd aan die twyfel is en onbestendig is in al sy doen en late, moet nie dink dat hy iets van die Here sal ontvang nie (Jakobus 1:6 – 8).