Klaagliedere

 

God’s loving care comes to us largely through the labor of others – Tim Keller

 

Klaagliedere

Ons leef in ‘n wêreld vol pyn en hartseer – oorloë, onderdrukking, hongersnood … In ons aanbidding is daar dikwels min plek vir klaagliedere. Ook die boek word verwaarloos. In The Message of Lamentations stel Christopher J. H. Wright  ons bekend aan hierdie boek wat ons kan help om menslike lyding te verstaan.

 

Die boek het sy ontstaan kort na die vernietiging van Jerusalem deur die Babiloniërs in 587 vC. Hierdie was ‘n traumatiese gebeurtenis in die geskiedenis van Israel. Die skrywer skilder ‘n prentjie van totale vernietiging en erge lyding: hongersnood, siekte, verkragting, steel en die ontheiliging van heilige dinge.

 

Anders as in die geval van Job en die Psalms sê God niks vir die skrywer nie. Hoe verklaar ons dit?

  • God laat toe dat die mense wat swaarkry hulle sê ten volle kan sê – Hy luister sonder om hulle te onderbreek om hulle te vertroos of reg te help.
  • Die profete het reeds verduidelik dat dit sal gebeur en hoekom dit sou gebeur.
  • God praat nie in die boek nie, maar Hy praat wel deur hierdie boek in sy woord in te sluit.

 

Daar is verskille tussen Klaagliedere en Job en die Psalms. Job se lyding was duidelik onverdiend. In die Psalms is lyding soms die gevolg van sonde, soms as gevolg van bose vyande en soms onverklaarbaar. Selfs al is Jerusalem deur die bose Babiloniërs vernietig, word dit aanvaar as God se oordeel oor die morele, sosiale en geestelike agteruitgang van die volk. Klaagliedere aanvaar God se straf terwyl dit terugdeins vir die omvang daarvan.

 

Kan Klaagliedere nog vir ons vandag iets bied? Daar is vandag steeds mense wat moord, verkragting, die verlies aan huise en die ontheiliging van heilige plekke ondervind. Vir hulle beskryf Klaagliedere die werklikheid. Ons kan en moet saam met hulle hartseer wees. Ons roep na God vir diegene wat swaarkry as gevolg van sonde, ongeregtigheid en onderdrukking. Klaagliedere beskryf die aakligheid van hierdie lyding en vra Hom om regverdig op te tree. Die boek bevestig ook God se soewereiniteit. Die tempel op aarde is vernietig, maar sy troon staan steeds in die hemel.

 

In ons moderne Westerse kerk is daar min plek vir klaagliedere. Ons laat die gedeeltes oor lyding en onderdrukking, waarvan die Bybel baie sê, uit. Ons gee voor ons het emosies wat ons nie regtig het nie of ons onderdruk die emosies wat ons het. As ons by die kerkdeur uitstap, kom al hierdie emosies maar net weer terug, want ons het dit nie in God se teenwoordigheid uitgebring nie.

 

Klaagliedere help ons om die wêreld se lyding te hanteer en daaroor te huil – selfs daarteen te protesteer. Dit gebeur in die oorkoepelende verhaal van die Bybel met Jesus Christus as middelpunt. Ons sien met hoop vooruit na die nuwe skepping sonder lyding, trane en die dood,