Kortpaaie wat ek gebruik as ek die Bybel lees

I invite you to read the Bible, not for bits and pieces of dry information, but as the story of God’s embrace of the world told in poetic images and types – Robert Webber

 Kortpaaie wat ek gebruik as ek die Bybel lees

Hoekom lees ek die Bybel? Sodat die woorde op papier verander word in ‘n ontmoeting met God – die teks moet lewe en betekenis kry en vir my rigting gee oor wat om te doen. Maar is die Bybel nog vir ons die lamp wat vir my die weg wys, die lig op my pad (Psalm 119:105)? Iewers kort daar iets. Scot McKnight (The Blue Parakeet) glo dit is omdat ons kortpaaie gebruik as ons die Bybel lees. As ons kortpaaie gebruik as ons die Bybel lees, beïnvloed dit ons geestelike gesondheid.

 

Wat is hierdie kortpaaie?

  • Brokkies van die wet

Vir sommige mense is die Bybel ‘n massiewe versameling van wette – wat moet ek doen en wat mag ek nie doen nie. God word nou die wet en ons verhouding met Hom word deur ons wetsonderhouding bepaal. Dit het egter ook ‘n invloed op ons – ons word nou onuitstaanbaar as gevolg van ons meerderwaardigheid. Ons is nou meer bekommerd om reg as goed te wees. Ons oordeel vinnig. Natuurlike is die wette, opdragte  in die Bybel belangrik. As jy Psalm 119 lees ontmoet jy ‘n Israeliet wat sy vreugde in die wet vind. Maar om die storie van die Bybel af te water tot ‘n versameling van wette verwring die Bybel.

  • Brokkies van seëninge en beloftes

In 1551 verdeel Stefanus die Bybel in hoofstukke en verse. Nou raak die moeilik om die Bybel as ‘n storie te lees. Die Bybel word nou in brokkies verdeel – ‘n Goddelike versameling van heilige brokkies. Vir sommige is dit brokkies van seëninge – alles is goed en wonderlik. Hierdie mense is opgewonde … totdat iets sleg met hulle gebeur. Maar die Bybel vertel die waarheid op ‘n realistiese manier. Abraham, Moses, Dawid, Paulus het wonderlike seëninge ontvang, maar ook dae van twyfel, swaarkry, ongehoorsaamheid … donker dae. Luister na die psalmis: My God, my God, waarom het U my verlaat en bly U ver as ek om hulp roep? (Psalm 22:2). Natuurlik moet ons weet van God se seëninge en beloftes in die Bybel. Maar die seëninge en beloftes in die Bybel kom uit ‘n ware storie wat weet dat ons in ‘n gebroke wêreld leef en dat party dae maar moeilik is. As ons die Bybel as ‘n storie lees, kan ons dit nie net as brokkies van seëninge en beloftes sien nie.

  • Inkkolle

Hermann Rorschach (1884 – 1922), bekende Switserse psigiater, het die bekende inkkol toets ontwikkel. Die pasiënt word ‘n kaart met ‘n inkkol gewys en gevra wat hy sien. Wat die persoon sien, gee vir die terapeut inligting oor sy persoonlikheid, emosies en denkprosesse. Dit is hoe sommige mense die Bybel lees: hulle sien wat in hulle kop is en projekteer op die Bybel wat hulle graag wil sien. Hulle hoor wat vir hulle belangrik is en nie noodwendig wat in die Bybel staan nie. Ons projekteer ons idees en ons begeertes in die Bybel. Baie van ons dink dat Jesus nogal soos ons is – ons dink ons word meer en meer soos Jesus, maar intussen probeer ons Jesus meer en meer soos ons te maak. Ons gebruik Jesus as ‘n inkkol! Ons kry nou ons storie in die Bybel en nie die Bybel se storie  as ons storie nie. Ons manipuleer die Bybel se storie.

  • Die legkaart

Vir sommige mense is die Bybel soos ‘n groot legkaart. As ek die legkaart inmekaar gesit het, kan ek van die stukke vergeet. God het sy gedagtes oor die Bybel versprei en nou is dit ons taak om al die stukke bymekaar te bring. Die probleem is dat, anders as by ‘n normale legkaart, ons nie weet hoe die oorspronklike prentjie lyk nie – ons moet ons verbeelding gebruik. He had a good deal of imagination, and it probably colored his statements of fact; but if this was so, he was not aware of it (Mark Twain). Hier is ‘n paar probleme met hierdie kortpad: ons aanvaar dat ons weet wat God besig was om te doen nog voordat die Bybel geskryf is; ons ignoreer die dele van die legkaart wat nie inpas nie; ons bevraagteken die Bybel wat ons het – as God vir ons ‘n sistematiese teologie wou gee, sou Hy dit gedoen het. Ons moet God se ontwerp van die Bybel aanvaar en toelaat dat die Bybel die Bybel kan wees. God het nie die Bybel vir ons gegee sodat ons dit kan bemeester nie; God het vir ons die Bybel gegee sodat ons daarvolgens kan leef en sodat die Bybel ons meester kan wees.

  • Maestro

[Maestro = beroemde leermeester – HAT)

Mense gaan na die Bybel om die maestro – Jesus Christus – aan die werk te sien. Hulle vra voortdurend: “Wat sou Jesus gedoen het?” Dit is die enigste vraag wat hulle vra. Die probleem is enigste. Vir sommiges is Paulus die maestro. Om die Bybel deur die oë van die maestro te lees, beteken dat ons alles in Paulus se kategorieë probeer inpas.

Hiermee ‘n paar kortpaaie wat ons neem as ons die Bybel lees. Vir baie van hulle kan ons maar net sê: Skuldig.