Krag in onderwerping

Krag in onderwerping

(Filemon 8 – 9).

 

Tydens die Hervorming was Martin Luther en Ulrich Zwingli in ‘n kwaai woordestryd oor die interpretasie van die Bybel betrokke. Zwingli was so ontsteld dat hy in die berge van sy geliefde Switserland rondgeloop het. Op ‘n afstand sien hy twee bokke wat mekaar nader op ‘n baie nou paadjie. Dit was baie duidelik dat die paadjie te nou was – hulle sou mekaar nie kon verbysteek nie. Hulle maak of hulle mekaar gaan aanvat. Groot was Zwingli se verbasing toe die een bok skielik op die lysie gaan lê en die ander een oor hom loop. Daarna gaan elkeen op sy pad voort.

Zwingli was beïndruk – hier was krag gedefinieer deur onderwerping. Twee teenstanders word in staat gestel om ‘n krisis te oorleef sodat hulle met belangrike dinge kon voortgaan..

Ons kry dieselfde beginsel in Paulus se woorde aan Filemon. Filemon se slaaf, Onesimus, het weggehardloop en Paulus in Rome ontmoet waar hy ‘n Christen geword het. Paulus stuur nou vir Onesimus na sy regmatige eienaar terug. Hy vra vir Filemon om Onesimus terug te ontvang, maar nie as slaaf nie, maar as broer. In plaas van koppe stamp met Filemon steek Paulus ‘n hand van liefde uit na hom. Was dit ‘n teken van swakheid?

So dikwels laat ons toe dat emosies ons verhoudings ontspoor, want ons word deur ons gewaande belangrikheid verblind. Emosies veroorsaak dat selfoorlewing en nie die belange van ander vir ons die belangrikste is.

Verskille is onvermydelik in alle verhoudings Die manier hoe ons dit hanteer is belangrik. Paulus se voorbeeld kan ons met vrug navolg.