Kruisiging – die oorsaak van dood (3)

Kruisiging – die oorsaak van dood (3)

Die belangrikste patofisiologiese gevolg van kruisiging was ʼn belemmering van normale asemhaling – veral uitaseming. Die gewig van die liggaam wat trek aan die uitgestrekte arms en skouers, neig om die spiere tussen die ribbes te fikseer. Uitaseming, wat gewoonlik ʼn passiewe proses is, word veral beïnvloed. Die asemhaling word vlak en koolsuurgas hoop op. Dit lei tot krampe en selfs sametrekkings wat asemhaling nog verder belemmer.

Om uit te asem, moet die liggaam opgelig word deur op te druk op die voete. Hierdeur word die hele liggaamsgewig op die voete geplaas – wat erge pyn sou veroorsaak. Dit veroorsaak verdere pyn as die rou rug teen die paal geskuur word. Elke asemhalingspoging is pynlik en put die slagoffer verder uit. Mettertyd lei dit tot versaking van die asemhalingsisteem.

Die werklike oorsaak van Jesus se dood kan nie aan ʼn enkele faktor toegeskryf word nie. Dit was ʼn kombinasie van bloedverlies (as gevolg van die geseling), uitputting, asemhalingsversaking en hartversaking. Moontlik was ʼn ritmestoornis van die hart verantwoordelik vir die finale katastrofiese gebeurtenis.

 

Hoekom het Jesus so vinnig gesterf?

Volgens Markus was Jesus slegs 6 uur aan die kruis. Gewoonlik het dit 24 tot 36 uur geduur voordat die persoon gesterf het. Origenes beskryf ʼn egpaar wat in 286 nC gekruisig is en nege dae en nege nagte aan die kruis gehang het.

Daar is baie faktore wat ʼn invloed kan hê op die tyd voordat ʼn persoon sterf aan ʼn kruis: sy algemene gesondheidstoestand, die presiese metode wat gebruik is, ens. Ons moet onthou dat Jesus nie net aan die kruis gely het nie, maar ook vooraf. Sy lyding het reeds in Getsemane begin. Daar is baie teorieë om Jesus se vroeë dood te probeer verduidelik. Hierdie vroeë dood van Jesus het selfs vir Pontius Pilatus verbaas. Toe Josef van Arimatea na Pilatus toe gaan om te vra vir die liggaam van Jesus lees ons dat Pilatus verbaas was om te hoor dat Jesus al dood was (Markus 15:44). Hy laat selfs sy offisier roep om te kom bevestig dat Jesus reeds dood was.

Ons lees dat Jesus gesê het: Dit is volbring! Toe het Hy sy kop vooroor laat sak en die laaste asem uitgeblaas (Johannes 19:30). Dit dui op ʼn katastrofiese terminale gebeurtenis. Wat was dit? Ons is onseker. Moontlikhede is:

(a)        ʼn Skeur van die hart. Dit was ʼn baie vroeë teorie. Hartskeur (ruptuur van die hart) is ʼn baie ongewone gebeurtenis in iemand met ʼn normale hart. Ons kry dit gewoonlik in mense met een of ander patologie van die hart. Dit kom ook meestal in ouer mense voor – ouer as 60 jaar.

(b)        As gevolg van Jesus se geseling en kruisiging wat gepaard gegaan het met ontwatering, en ʼn lae suurstofinhoud in die bloed, kan die bloed meer stolbaar word. Brose groeiseltjies kan dan op die hartkleppe ontwikkel. Hierdie groeiseltjies kan loskom en die bloedvate na die hartwand blokkeer. Jesus kon dus gesterf het as gevolg van ʼn massiewe hartaanval (miokardiale infarksie).

(c)        Traumatiese skok as gevolg van uitputting, pyn, dehidrasie en bloedverlies. Dit is onwaarskynlik, want mense met traumatiese skok is gewoonlik verward. Jesus was duidelik nie verward toe Hy sy laaste wens aan sy moeder en aan Johannes oorgedra het nie. Jesus was tot aan die einde helder.

(d)       Ritmestoornis van die hart. Weens asemnood en die dehidrasie verander die chemiese samestelling van die bloed. Dit kan die hartritme affekteer.

(e)        Asemnood. Dit was waarskynlik die primêre oorsaak van dood, maar ons moet aanvaar dat uitputting, pyn, hartversaking (as gevolg van vog in die hartsak) en bloedverlies die proses verhaas het. Die feit dat Jesus nie die dwarshout van die kruis kon dra nie, ondersteun hierdie teorie.

Waarskynlik was dit ʼn kombinasie van faktore wat Jesus se vroeë dood veroorsaak het.

Skrywer: Dr Coen Slabber