Kry ‘n kultuur-relevante vertrekpunt

 

So long as you have food in your mouth, you have solved all questions for the time being. -Franz Kafka, skrywer (1883-1924)

Kry ‘n kultuur-relevante vertrekpunt

Paul Copan en Kenneth D. Lidwak ( The Gospel in the Marketplace of Ideas) gebruik Paulus se besoek aan Atene (Handelinge 17) om gelowiges te help om in so ‘n multikulturele wêreld die evangelie te verkondig. Hulle vergelyk Atene in Paulus se tyd met ons eie wêreld en vind heelwat ooreenkomste.  Ons gaan ‘n paar blogs hieraan spandeer.

Paulus begin sy toespraak deur vir die gehoor te wys dat hy die klassieke Grieks-Romeinse retoriek kan gebruik. Ek sien dat julle in alle opsigte baie godsdienstig is (17:22). Met hierdie kompliment is sy gehoor meer bereid om na hom te luister. Hy begin nie deur te sê hulle gaan almal hel toe as gevolg van al hierdie afgode nie. Hy begin deur ‘n brug na sy gehoor te bou.

Hy gebruik ook geen direkte aanhalings uit die Skrif nie – sy gehoor sou in ieder geval nie hierdie aanhalings herken het nie – dit sou net ‘n mors van tyd wees.

 

Paulus gebruik sy waarnemings wat hy in Atene gemaak het as vertrekpunt vir sy aanbieding van wie en wat God werklik is. Hy sê nie al hulle gode, tempels, altare is dwaas nie.

Paulus neem klein treetjies soos hy hulle na Jesus toe lei. Hy begin by iets waarmee die gehoor bekend is en gaan dan geleidelik verder tot by Jesus Christus en die evangelie. Die onvermoë van sy gehoor om die ware God te herken is ‘n belangrike tema in hierdie toespraak.

Paulus begin by die gehoor se geloof en lei hulle na die lewende God, Skepper van alles. Hy wys wat God nie nodig het nie. In 17:24 verwys Paulus na twee kernidees:

  • God het die wêreld met alles wat daarin is, gemaak. Hierdie is ‘n algemene tema in die Ou Testament. Paulus sê die Ateners is onkundig oor wie God werklik is. Hy is groter as die skepping, maar nie deel daarvan nie.
  • God woon nie in tempels wat deur mense gemaak is nie. Die hemel, selfs die hoogste hemel, kan U nie bevat nie, hoe dan nog hierdie tempel wat ek gebou het (1 Konings 8:27). God staan dan teenoor al die gode met hulle tempels en priesters in Atene.

17:25 is nou die volgende stap in Paulus se argument. As die twee idees in 17:24 waar is, is dit duidelik dat God nie mense nodig het om Hom te versorg nie; Hy het nie hulle offers nodig nie. God is ‘n Gewer en nie ‘n Ontvanger nie.

Hierdie God is oppermagtig oor alles en almal: Uit een mens het Hy al die nasies gemaak (17:26). Die Ateners het geglo dat hulle uit die kosbare grond van Atene ontstaan het. Nou daag Paulus hierdie hoë siening wat die Ateners van hulleself gehad het, uit. Alle mense se oorsprong is by God. Aan die einde gaan Hy hulle oordeel. Hierdie God bepaal hoe lank en waar mense sal woon. God is beheer en daarom kan Hy grense vir mense stel. God het hulle gemaak om Hom te soek (17:27). Paulus sê dat mense moet rondtas om God te vind, al is Hy nie ver van enigeen van ons af nie.

In 17:28 haal Paulus dan die Griekse digters aan. Paulus ignoreer nie die sekulêre kultuur nie; hy ignoreer nie die klassieke tekste en filosofie nie. Paulus beperk nie sy lees en leer tot Joodse en Bybelse onderwerpe nie.