Kyk terug om vorentoe te beweeg

. —Thomas Lye

Kyk terug om vorentoe te beweeg

Believe me … the Church of God will never be preserved without catechesis (Calvyn)

In J. I. Packer en Gary A. Parrett se boek Grounded in the Gospel sê hulle dat kategese ‘n integrale deel van die Christelike groeiproses is. Omdat kategese in baie gemeentes nie meer belangrik is nie, kry ons ‘n geleidelike toename in Bybelse ongeletterdheid.

 

Ons kyk altyd na die nuutste tegniek of model of program of bemarkingsfoefie om in die gemeente  te gebruik. Is dit reg? Jeremia sê vir ons: So sê die Here: Staan by die kruispaaie en kyk, en vra na die ou paaie. Vra watter pad die beste is en loop dit, dan sal julle rus vind (6:10). Maar dan lees ons hierdie ontstellende sinnetjie wat vandag steeds waar is: Maar hulle het gesê: “Ons sal nie daardie pad loop nie.”

Baie kerke het verandering nodig.  Die sekerste pad vorentoe is om versigtig oor die wysheid van die verlede na te dink. Ons is nie die eerste mense wat met hierdie probleme sukkel nie. Om geloofsgemeenskappe in ‘n vyandige kultuur te vestig en te ontwikkel, is ‘n probleem wat hom voortdurend herhaal. Nie net die huidige kerkleiers kan ons leer hoe om relevante en doeltreffende bedienings in ons huidige kultuur te vestig nie.

In die Bybel is daar baie wysheid om gelowiges om te bou – hoe om God te eer en te verheerlik. Daar kry ons modelle, beginsels en praktyke wat vandag nog toepaslik is. Deur die kerkgeskiedenis te bestudeer, leer ons ook baie waardevolle lesse. Natuurlik moet ons na die huidige modelle ook kyk, solank dit nie ons enigste bron van wysheid is nie.

Waar moet ons kyk? Die Skrif.  Lees die Skrif versigtig en toegewyd. Vanaf hierdie Bybelse basis moet ons dan vorentoe beweeg. C. S. Lewis het gesê dat vir elke boek wat ons lees van ‘n skrywer wat nog leef, moet ons een lees van ‘n skrywer wat reeds oorlede is. Vir elke nuwe model moet ons na ‘n beproefde model uit die verlede terugkyk. Daar is baie wysheid in die praktyke van mense wat ons voorafgegaan het – luister en leer by hulle. Die probleem is dat ons glo dat die nuwe metodes/modelle beter moet wees Maat nuut is nie noodwendig altyd beter nie.

Daar is ‘n beweging, veral by jonger gelowiges, om weer na die ou tradisies terug te kyk. So word die kerkkalender weer vir baie gemeentes belangrik; die Nagmaal word meer dikwels bedien; ou geestelike liedere word weer ontdek; ens. Mense besef dat die modernisme ons van baie van die skatte van ons geskiedenis en tradisies beroof het. Jongmense kyk terug met ‘n mengsel van nuuskierigheid en verlange. Ongelukkig is baie van hierdie terugkyk nie gebaseer op ‘n poging om agter die teologiese rasionaal van hierdie ou gebruike te kom nie. Ons moet eers die konteks van hierdie ou gebruike verstaan voor ons kan besluit of hulle steeds vandag toepaslik is.

As ons met hierdie terugkyk besig is, kom ons by die praktyk van kategese uit. Dit gebeur nie juis vandag  nie. Hoekom kategese? Dit is die fondament – die essensie – van die Christelike geloof vir gelowiges.

Ons het kategese as normale praktyk afgeskaf. Die woord kategese word selfs met suspisie bejeën. Ons soek altyd nuwe metodes en programme; ons verander voortdurend, want ons wil relevant bly; ons moet gedurig aanpas, want mense se behoeftes verander. Het dit wat ons tot dusver gedoen het vrugte gedra? Nee. Daarom moet ons aanhou verander, want die ou modelle en programme het nie vrugte gedra nie. Daarom soek ons nuwe modelle en programme of kyk wat “suksesvolle” kerke doen – net om hulle  na te aap.

Die antwoord: Die kerk moet weer kategese as ‘n ononderhandelbare praktyk terugbring.