Laat die kindertjies na My toe kom

The whole idea of Reformation theology was to justify restructuring the organized church without shaking its foundations – John Howard Yoder

Laat die kindertjies na My toe kom

In 1915 hoe die bekende B. B. Warfield ‘n reeks “konferensies” by die Princeton Seminary. Dit is verbasend hoeveel ons ‘n honderd jaar later nog uit hierdie stukkies kan leer.

Die mense stroom na Jesus toe. Baie van hulle is siek en kom om genees te word. Jesus se dissipels aanvaar dit as ‘n goeie rede om na Jesus te kom. Maar moeders wat hulle kindertjies bring , is nie reg nie – hulle is nie siek nie; hulle verstaan nie wat Jesus sê nie. Dit is nie ‘n prioriteit nie. [Die NIV praat van babies; die KJV praat van infants; Die Interliniêre Bybel vertaal hierdie gedeelte in Lukas met klein kindertjies. Ons kan dus aflei dat ons hier van klein kindertjies praat.] Geen wonder die dissipels raas met die mense nie.

 

Wat was Jesus se reaksie? Hy was verontwaardig en berispe sy dissipels om die kindertjies nie te verhinder om na Hom te kom nie, want die koninkryk van God is juis vir mense soos hulle. Hy sit sy arms om hulle, lê hulle die hande op en seën hulle. Dit beteken nie dat die koninkryk van God net uit kinders bestaan nie, maar dat dit bestaan uit mense wat die koninkryk soos ‘n kindjie ontvang. Hierdie is ‘n voorwaarde vir toegang tot God se koninkryk.

Wat is dit van die kindertjies wat hulle so spesiaal maak?

  • Is dit hulle onskuld? Onwaarskynlik, want nêrens anders stel Jesus onskuld as ‘n vereiste vir toegang tot God se koninkryk nie. In werklikheid net die teenoorgestelde – Hy soek die sondaars en tollenaars uit; Hy sê self dat Hy gekom het om dié wat verlore is te red.
  • Is dit dalk hulle nederigheid?Jesus sê self: Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is (Matteus 5:3). Dink ook maar aan die gebed van die tollenaar.
  • Is dit dalk hulle eenvoud? Kinders se lewens is nie gekompliseerd nie; hulle het geen dubbele agendas nie; by hulle is daar geen valsheid nie.

Hierdie faktore mag almal ‘n rol speel. Die belangrikste faktor is egter: kinders vertrou. Hulle is totaal afhanklik van hulle ouers vir alles. Hulle lê in hulle moeders se arms en vertrou haar 100%. Is dit nie wat Jesus hier bedoel nie – eenvoudige, absolute vertroue is die pad na die koninkryk van God. Die koninkryk van God is vir diegene wat totaal en hulpeloos afhanklik van die Koning is.

Let wel: Ons moet die koninkryk soos ‘n kindjie ontvang – naak, gestroop van alles. Ons lewer geen bydrae nie; ons verwerf nie die koninkryk nie … ons moet ontvang. Ons bring niks om ons aan te beveel nie … net hulpeloosheid. Ontvang dit as ‘n gawe.