Laat sy Liefde jou Lei: Die genade-reёnboё in jou lewe

Laat sy Liefde jou Lei: Die genade-reёnboё in jou lewe

Die Here is jou beskermer aan jou regterkant. Die son sal jou bedags nie aantas nie, nog minder die maan in die nag … Die Here hou wag oor jou, of jy kom of gaan, nou en vir altyd. Psalm 121:5-6, 8

Murray Bank vertel die legende van die skatryk koning wat aan ernstige depressie gely het. Iemand vertel hom toe dat hy genees sal word wanneer hy ‘n waarlik gelukkige man se jas kon aantrek. Dadelik het hy sy amptenare gestuur om ‘n sielsgelukkige man te gaan soek. Na ‘n lang soektog, kry hulle toe ‘n man wat glo dat hy die heel gelukkigste man in die wêreld is. Al probleem toe was … dat hy te arm was om ‘n jas te besit.

Ons liewe Vader sit elke dag ‘n duisend reёnboё in ons lewens. Ons leefwêrelde is propvol kleurryke stukkies seёn. Dink maar aan die wonder van ‘n verkwikkende nagrus en die feit dat jou liggaam – selfs terwyl jy geslaap het – 100% bly funksioneer het. Of die feit dat jy gesond is, kan werk, kos het om te eet … mense het om lief te hê … en dié God ken wat tot die dood aan jou getrou is.

Kom ons belééf weer vandag elkeen van die volryk genadekleure in ons lewens: Ja, kom ons sien, hoor, ruik, proe en voel met nuwe verwondering hoe ruimskoots God se druppels genadereёn elke dag oor ons val. Kom ons erváár die reёnboё-van-trou wat Hy goedgunstelik oor ons vou.

Ek loof U vir elke reёnboog-vreugde in my lewe!

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit Milanie Vosloo se boek: Laat sy Liefde jou Lei, publiseer. Ons dank aan Milanie Vosloo en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

milanie_boeke_advertensie

 

Skrywer: Milanie Vosloo