Laat sy Liefde jou Lei: Die Heilige is heeltyd by jou

Laat sy Liefde jou Lei: Die Heilige is heeltyd by jou – Milanie Vosloo

Die Heilige is heeltyd bý jou

Maar dié wat deur die Gees beheer word – hulle gedagtes is vol van die dinge wat die Gees gelukkig maak. As die sondige natuur jou denke oorheers, lei dit tot die dood. Maar as die Gees jou denke oorheers, beteken dit vir jou ware lewe en vrede. Romeine 8:5b-6

Kinders van God is so bevoorreg! Hulle is nooit alleen nie omdat die Heilige – God sélf – in hulle teenwoordig is. Daar waar ons elke dag ons gewone lewe leef, as gesin saam is, met ons werk voortgaan, saam met ander kuier, inkopies doen en kos maak … dáár is Hy deel van ons. En daar in ons alledaagse leefwêreld wil Hy:

  • gedurig aan ons bevestig dat ons God se kinders – sy ryk erfgename – is (Romeine 8:15-17);
  • die heeltyd vir en namens ons by die Vader intree (Romeine 8:26-29);
  • ons help om die vrug van die Gees uit te leef (Galasiёrs 5:22); en
  • ons toerus met die Gawes van die Gees (1 Korintiёrs 12-14).

Daar waar jy vandag jou lewe gaan leef, jou dagtaak gaan uitvoer, saam met ander gaan verkeer, daar is die Gees één met jou en wil Hy jou help om as sy geheiligde kind te leef. Nie ‘n sondelose, hooghartige heilige nie, maar as ‘n mens wat in ooreenstemming met sy wil leef. ‘n Mens wie se lewenswandel wys: Die God-van-liefde leef deur my.

Gaan leef vandag met oorgawe in dié wete dat die Gees van God sélf saam met jou gaan.

Vandag wil ek in alles op U fokus, Heilige Gees.

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit Milanie Vosloo se boek: Laat sy Liefde jou Lei, publiseer. Ons dank aan Milanie Vosloo en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za 

 

Skrywer: Milanie Vosloo