Laat sy liefde jou lei: Die Here vra gehoorsaamheid

Laat sy liefde jou lei: Die Here vra gehoorsaamheid – Milanie Vosloo

“Ek sal Jerusalem maak tot ‘n bouval. Dit sal ‘n plek wees waar die jakkalse graag sal lê.” Jeremia 9:11

Die Skrif is propvol gelaai met beloftes van God se goedheid. En dis uiteraard vir ons altyd lekker om te lees hoe ons Vader ons liefhet en wil seёn. Maar die Woord is ook deurspek met ernstige oproepe tot gehoorsaamheid juis omdat ons liefdevolle Vader wéét wat die gevolge van ongehoorsaamheid is. Daarom is sy riglyne vir ‘n gelukkige lewe, sy waarskuwings en sy uitsprake teen sonde net so dringend soos sy beloftes van trou.

 

Natuurlik het ons Vader baie begrip en deernis met ons menslike swakhede en gee Hy sy vergifnis in oormaat aan ons. Maar daar is ook ‘n punt waar God sê: “Hoekom hou Jerusalem aan om My te bedrieg? Hoekom weier hulle om terug te kom? … Ek sal hulle oeste wegneem … Wat Ek vir hulle gegee het, sal Ek weer terugneem.” (Jeremia 8:5b, 13a,c)

Dis skrikwekkend om te besef dat God só ernstig is oor gehoorsaamheid dat Hy selfs sy goedheid van ons kan weerhou juis omdat Hy ons wil terughê by Hom. Ja, die Here kan oornag ons lewe in ‘n bouval verander!

Waar staan jy vandag? Met jou hand en hart suiwer gerig op jou Leidsman? Of iewers op ‘n plek waar Hy dalk vir jou vra: “Kom terug na My, my kind!”

 

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit Milanie Vosloo se boek: Laat sy Liefde jou Lei, publiseer. Ons dank aan Milanie Vosloo en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za 

 

milanie_boeke_advertensie

 

  Skrywer: Milanie Vosloo