Laat sy liefde jou lei: Hoe bid ek vir my vyande?

Laat sy liefde jou lei: Hoe bid ek vir my vyande? – Milanie Vosloo

“Ek sê vir julle: julle moet julle vyande liefhê. Doen goed aan hulle.” Lukas 6:35a

 

Wanneer Jesus ons die opdrag gee dat ons vir ons vyande moet bid, bedoel Hy natuurlik nie dat ons sal vra dat die Vader hulle op een of ander manier sal benadeel nie. (Ja, ons voel soms so!) Hy meen dat ons met ’n opregte hart sal bid dat hulle in eie reg deur die Vader ge-seën sal word.

Wanneer jy dus vir dié mense bid van wie jy verskil, van wie jy nie hou nie of die wat jou seergemaak of benadeel het, is dit belangrik om die volgende gebedspatroon te volg:

  • Bid dat die Gees jóú hart in staat sal stel om begrip, empatie en deernis vir daardie mens/e te hê.
  • Bid dat die Vader ’n stukkie van die liefde wat Hy vir hulle het (ja, Hy het alle mense lief!) ook in jou hart sal sit.
  • Vra ruiterlik vir God om hulle te seën en goed te wees vir hulle.
  • Bid dan laastens dat Hy deur sy wonderwerk-krag julle albei in staat sal stel om mekaar met ánder oë raak te sien: oë van onvoorwaardelike aanvaarding en liefde vir mekaar.
  • Hou aan om hierdie versoeke voor die Vader se voete te lê elke keer wanneer iemand jou hare laat rys. Gou sal jy ervaar hoe die krag van die liefde elke hare-kloof-ding tussen julle sal wegvee.

    Vader, leer my een van die moeilikste gebede: om in opregtheid vir my vyande te bid.

     

     

    Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit Milanie Vosloo se boek: Laat sy Liefde jou Lei, publiseer. Ons dank aan Milanie Vosloo en CUM vir hierdie vergunning. Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za 

     

    milanie_boeke_advertensie

     

     Skrywer: Milanie Vosloo