Laat sy Liefde jou Lei: Is jy te hard op jouself?

Laat sy Liefde jou Lei: Is jy te hard op jouself? – Milanie Vosloo

Is jy te hard op jouself?

Ek wil aan julle ‘n diep waarheid vertel wat God aan ons bekend gemaak het. Dit is dat ons nie almal sal sterf nie, maar ons almal sal verander word. 1 Korintiёrs 15:51

 

Party mense is nooit tevrede met hulself nie! Dis diegene wat ongenadige hoё eise aan hulself stel, altyd beter wil doen en nie sal rus voordat hulle ‘n berg tot bo geklim het nie. Die ergste van alles is dat hulle so halfpad teen die afdraende af weer aan ‘n nuwe uitdaging beplan.

 

As jy een van daardie nimmereindigende drywers is wat jouself altyd tot hoёr hoogtes druk, maak jy tien-teen-een ‘n reuse sukses van alles wat jy aanpak. Oor jou sal God heelwaarskynlik eendag sê: Welgedaan, my kind, jy het jou lewe behoorlik gelééf!.

Máár … soos so baie dinge in die lewe, kán dit wees dat jy soms net té hard op jouself is, té veel wil vermag en daarom met tye … uitgebrand en moedeloos raak. As dit so is, is jy verseker nie binne die wil van God nie. Nêrens in sy Woord sê Hy dat ons ‘n ongebalanseerde altyd móét-doen-mens moet wees nie. Inteendeel, Jesus was ‘n wonderlike voorbeeld van iemand wat geweet het wanneer genoeg, genoeg is. Daarom het Hy dikwels, ondanks sy besige program, tyd gemaak om rus by sy Vader te vind.

Doen jy dalk dinge “té”? Want dan sukkel God se gebalanseerde lig om deur jou te skyn!

Here, leer my om my rus in U te vind en nie in die dinge wat ek vermag nie.

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit Milanie Vosloo se boek: Laat sy Liefde jou Lei, publiseer. Ons dank aan Milanie Vosloo en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za 

milanie_boeke_advertensie

 

Skrywer: Milanie Vosloo