Laat sy Liefde jou Lei: Jy het wonderlike Talente!

Laat sy Liefde jou Lei: Jy het wonderlike Talente! – Milanie Vosloo

Jy hét wonderlike talente!

Net so sal dit wat Ek sê, nie weer na My toe terugkom nie. Dit sal vrugte dra. Dit sal alles doen wat Ek besluit het. Dit sal laat gebeur waarvoor ek dit gestuur het. Jesaja 55:11

Ons is almal karakter in God se Storie-van-die-lewe. Nou maak dit regtig nie saak hoe lank jou karakter hier op aarde is nie, wat wél saak maak, is wat die kwaliteit van jou lewe is terwyl jy nog besig is om aan jou storielyn skryf.

Vra jouself vandag die vraag: Waar en hoe pas ek in in die verhaal van God in? Is ek regtig die mens wat Hy beplan het ek sal wees en is my gedeelte van sy Storie eg, waar en goed?

Dit wat jy is en die talente wat jy ontvang het, is nie toevallig nie. God het presies geweet wat Hy vir jou met jou spesifieke persoonlikheid moes gee. Dis waarom jy is wat jy is en kan doen wat jy doen! En dis waarom jy op jou manier so ‘n groot deel uitmaak van sy groot Raadsplan. Wanneer jy dus jou talente en gawes met passie uitleef, maak jy van ‘n dood gewone mensstorie ’n uitmuntende verhaal. ‘n Mens-verhaal waaroor God stil glimlag.

In jou is daar eindelose potensiaal wat ontsluit kan word. Wanneer jy jou volle menswees uitleef, ontwikkel en tot eer van God aanwend, sal jou lewe méér as net sin maak: dit sal ewigheidswaarde inhou!

Meester, wys my hoe ek, dit wat ek is en het, nog beter kan leef.

 

Skrywer: Milanie Vosloo