Laat sy Liefde jou Lei: Jy’s nie weggegooi nie!

Laat sy Liefde jou Lei: Jy’s nie weggegooi nie! – Milanie Vosloo

Jy’s nie weggegooi nie!

Sara het Abraham beveel: “Smyt hierdie Egiptiese vrou en haar kind onmiddellik uit. Haar kind kan verseker nie saam met my kind erf nie.” Genesis 21:10

Ons almal het dit al beleef. Daardie gevoel dat ons weggegooi is! Dalk gaan hierdie weggooi-gevoel so ver as jou kinderjare terug. Miskien het jy op ’n stadium ’n vreeslike seer verwerpingservaring gehad wat vandag steeds ’n diepgewortelde letsel in jou hart laat. Of dalk was dit sommer net iets wat iemand gesê of gedoen het wat jou eenkant-gestoot laat voel het.

Soos Hagar, die vrou wat Abraham se eerste kind, Ismael, op Sara se aandrang verwag het en wat toe op ’n dag deur dieselde Sara uit die huis gejaag is. So beland Hagar en haar klein seuntjie in die woestyn waar hulle byna van die honger en dors omkom. ’n Hartseer verhaal van ’n verwerpte vrou wat eenkant sit en huil … totdat God ingryp. God sien hierdie weggooivrou raak, stuur ’n Engel om haar te versterk en haar te oortuig dat Hy nie haar of haar seun in die steek sal laat nie. “Gaan tel hom (jou seun) op en troos hom, want Ek sal hom nog eendag ’n groot nasie maak.” bevestig die Engel van God aan haar in Gen 21:18b.

Vind vandag troos in die feite dat ons God by uitstek ’n Vader vir weggooimense is: vir mense wat om een of ander rede verwerping ervaar het en daarmee worstel.

Immanuel – God by my – dankie dat ek aan u bors heling vir my ál my emosies kan vind.

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit Milanie Vosloo se boek: Laat sy Liefde jou Lei, publiseer. Ons dank aan Milanie Vosloo en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

Skrywer: Milanie Vosloo