Laat sy Liefde jou Lei: Leef elke stukkie van jou lewenspad

Laat sy Liefde jou Lei: Leef elke stukkie van jou lewenspad – Milanie Vosloo

Lééf elke stukkie van jou lewenspad!

Die liggaam wat doodgaan, vergaan heeltemal, maar die liggaam waarmee ons weer lewendig word, sal nooit vergaan nie. 1 Korintiërs 15:42

Die lewe is soms vol verruklike skoonheid. Tye wanneer dit vir ons voel of ons eenvoudig wil bars van vreugde en geluk. Wanneer die wêreld om ons net so mooi lyk soos wat ons harte voel. Dan is daar dié tye wanneer gevaar, boosheid, pyn, hartseer …die slegte op ons toesak en wanneer ons wonder of daar dan nog enige iets goed van ons en ons lewens hier op aarde kan kom. Meestal egter, is ons lewens ‘n eenvoudige sloergang waarin ons ritmies van een dag tot die volgende opstaan, werk, leef en slaap. Sulke tye is dit maklik om verveeld te wonder of daar dan nie iets meer opwindends is as die gewóne roetine-lewe nie.

Die geheim van ‘n vervullende lewe is om die droё Karoo-tye met dieselfde passie as die oasetye te leef. Dis om elke berg wat voor jou lê as ‘n gawe vir groei te sien, om die donker dieptes as ‘n naby-aan-God-geleentheid te ervaar. Om met oorgawe te leef is om in die reёn te kan lag, omdat jy weet die reёnboog is op pad en om in sonskyndae te jubel omdat jy opnuut besef: God bly steeds dié Lig! En ons in Hom kinders van die ewigheid.

Ons leef elke dag ‘n nuwe stukkie van ons menslike pelgrimsroete: ‘n pad wat gevul is met die heerlike verskeidenheid wat ons léwe noem.

Here, help my om van elke dag die heel beste te maak.

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit Milanie Vosloo se boek: Laat sy Liefde jou Lei, publiseer. Ons dank aan Milanie Vosloo en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za 

milanie_boeke_advertensie

 

Skrywer: Milanie Vosloo