Laat sy liefde jou lei: Liefde wat nie onderskei nie

Laat sy liefde jou lei: Liefde wat nie onderskei nie – Milanie Vosloo

“Dis maklik om oulike mense lief te hê. Hulle van wie ons hou of hulle wat self in oorvloed gee. Maar, Here, dis vrek moeilik om soos U lief te hê: te gee waar daar niks is, te glimlag in ‘n frons, vas te hou in ‘n wegstoot. Dis bitter moeilik om onvoorwaardelik lief te hê! Here, aanvaar my as een van u graad-eentjies en leer my geduldig die ABC van gratis liefde.” So skryf ek in my gebedeboek, Heeltyd by God.*

Hoe waar is die nie? Dis so natuurlik om liefde met wederliefde te beantwoord, om omgee te wys aan hulle wat dankbaar is en uit te reik na dié wat vir ons omgee. Wanneer ons egter die Woord lees, is dit duidelik dat ons Vader méér van ons verwag. Hy vra van ons iets van die onvoorwaardelike liefde wat sy Seun aan die kruis geopenbaar het toe Hy sy lewe vir dié mense gegee het wat Hom verwerp het. Hy vra van ons om liefde te gee sonder om beloning terug te verwag – Hy vra soms “moeilike liefde”.

Bid dat die Gees jou vandag sal help om liefde te gee daar waar dit vir jou onmoontlik voel. Jy sal verbaas wees watter verskil dit aan jóú lewe maak!

Vader, uit myself kan ek nie lief hê soos U nie. Deur U, kán ek! Werk in my asseblief.

* Heeltyd by God uitgegee deur Lux Verbi.BM 2003

 

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit Milanie Vosloo se boek: Laat sy Liefde jou Lei, publiseer. Ons dank aan Milanie Vosloo en CUM vir hierdie vergunning. Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za 

 

milanie_boeke_advertensie

 

 Skrywer: Milanie Vosloo