Laat sy Liefde jou Lei: Méér as ‘n glimlag …

Laat sy Liefde jou Lei: Méér as ‘n glimlag … – Milanie Vosloo

Méér as ‘n glimlag …

Maar as die Gees ons lewe beheer, is die gevolg: …vriendelikheid … Galasiёrs 5:22 

‘n Enkele vriendelike gesig, woord of daad kan jou hele dag opvrolik. Dink maar hoe lekker dit jou laat voel wanneer iemand jou met ‘n glimlag verras, ‘n opregte drukkie begroet, minsame woorde teenoor jou uitspreek of sommer net iets spesiaals vir jou doen. Die feit is, jy kan ook daardie verskil aan ander se lewens maak deur klein én groot dade van liefde sonder voorwaarde aan hulle uit te deel. Die bonus van vriendelik wees, is dat ons heel dikwels dubbeld soveel terugkry. Want die weggee van aanvaarding, goedheid en minsaamheid bring altyd vir die gewer veel groter beloning!

Wanneer die Gees jou hart met sy vriendelikheidsliefde vul en jou bewus maak van geleenthede waar jy dit kan uitdeel, vra Hy ook van jou dat jy gehoorsaam sal wees aan sy roepstem. Leef die woord vriendelikheid selfs wanneer jy niks terugkry nie, deel dit aan álle mense uit en doen dit herhaaldelik … selfs wanneer jy nie daarna voel nie.

Weet vandag dat die Heilige Gees reeds aan jou die vermoё gegee het om werklik minsaam, welwillend en beminlik te wees. Al wat Hy vra is ‘n geesvervulde hart wat gewillig hoor wat Hy sê en doen wat Hy vra.

Vriendelikheid is die toegeneentheid tussen twee harte wat soms woordeloos gesmee word, ander kere in pakkies genade oorhandig word en meestal sommer net uit ‘n hart van liefde spontaan sigbaar word.

Gees van God, leer my om die vrug van vriendelikheid met passie te leef.

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit Milanie Vosloo se boek: Laat sy Liefde jou Lei, publiseer. Ons dank aan Milanie Vosloo en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

milanie_boeke_advertensie

 

Skrywer: Milanie Vosloo