Laat sy Liefde jou Lei: ‘n Ouboet wat jou op sy hande dra

Laat sy Liefde jou Lei: ‘n Ouboet wat jou op sy hande dra – Milanie Vosloo

‘n Ouboet wat jou op sy hande dra

Jesus het geantwoord: “Wie is regtig my ma en my broers? … Elkeen wat my gehoorsaam, is eintlik my familie.” Markus 3:33, 35

Het jy al gewens dat jy ‘n wonderlike ouboet kon hê? Nie ‘n broer wat terg, jou uit sy kamer verbied en jou by ma verkla nie. Eerder ‘n liefdevolle, beskermende ouboet wat vir jou opkom as jy fouteer het, jou met sy lewe beskerm as gevaar dreig en jou met sy hele hart liefhet en koester?

Die wonder is, ons hét so ‘n broer! Ons het ‘n Ouboet-Jesus wat al hierdie wens-dinge en nog veel meer is. Hy was die Een wat vir ons ‘n onkreukbare voorbeeld gestel het. Hy het vir ons kom wys hoe ware Grootboet-liefde lyk, ‘n onkreukbare voorbeeld gestel, ons geleer hoe opregte diensbaarheid lyk en vir ons gewys hoe ons regtig met ander mense moet omgaan. Hy het vir ons ‘n ryk nalantenskap gelaat van hoe ons behoort te leef om ons Vader se hart gelukkig te maak. Meer as dit, het Hy vir ons die grootste offer gebring wat enige mens vir ‘n ander kan gee: sy lewe. Juis omdat ons self te swak en sukkelend is om self gered te word, het hierdie Jesus-broer gesterf sodat ek en jy kan leef.

Hoe dankbaar kan ons wees dat ons Vader sy Seun gestuur het om die weg vir ons te berei. Hoe heerlik om te weet dat ons as gelowiges die heel beste Broer het!

Dankie Jesus, dat ek u kleinsus mag wees.

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit Milanie Vosloo se boek: Laat sy Liefde jou Lei, publiseer. Ons dank aan Milanie Vosloo en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za 

 

Skrywer: Milanie Vosloo