Laat sy Liefde jou Lei: ‘n Sag-gebreide hart

Laat sy Liefde jou Lei: ‘n Sag-gebreide hart – Milanie Vosloo

Maar as die Gees ons lewe beheer, is die gevolg: …sagmoedigheid … Galasiёrs 5:22

Om sag van hart te wees, kan so maklik as emosionele onstabiliteit, onsekerheid of ‘n gebrek aan beslistheid geklassifiseer word.

As dit so is, wonder ek waarom God gekies het om saggeaarde mense in sy diens te gebruik. So lees ons byvoorbeeld in Numeri 12:3 dat Moses ‘n buitengewoon sagte en nederige hart gehad het. Jesus se eie ma was ‘n vrou met ‘n minsame en gewillige hart en Hy sélf het elke ander mens met die grootste liefde en deernis omarm.

‘n Vrou wie se hart deur die Gees van God “sag” gevorm is, sal:

  • op ‘n natuurlike manier liefde teenoor elke ander mens leef selfs wanneer dit nie vir haar so maklik is nie;
  • ander se belange bo haar eie stel juis wanneer sy sou verkies om ‘n selfsugtige keuse te maak;
  • met liefde, begrip en vergifnis reageer as mense die wêreld vir haar moeilik maak; en
  • die vermoё hê om haar standpunt met beslistheid te stel sonder om ander se menings met minagting te behandel. 

‘n Mens moet nogal braaf, moedig en selfbeheersd wees om ‘n Geesvervulde sagte hart te hê. Duidelik is dit iets wat ons net sal ontvang deur ‘n innige verhouding met ons Vader, gereelde Woordstudie, selfondersoek en ‘n totale afhanklikheid.

Sagmoedigheid kan slegs kristalliseer in ‘n hart wat oorloop van goddelike liefde.

Vader, gee aan my ‘n hart wat sag gebrei is deur die liefde.

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit Milanie Vosloo se boek: Laat sy Liefde jou Lei, publiseer. Ons dank aan Milanie Vosloo en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

milanie_boeke_advertensie

 

Slrywer: Milanie Vosloo