Laat sy Liefde jou Lei: Om soms te slow-live

Laat sy Liefde jou Lei: Om soms te slow-live – Milanie Vosloo

Om soms te slow-live

Party dae kry ons berge versit net om die dag daarna te voel of ons niks gedoen het nie. Sommige tye in ons lewe is ons uiters produktief en kry ons ’n duisend dinge gelyktydig gedoen terwyl ons ander kere sommer net in ’n min-doen-fase is. Ja, soms is ons in die vinnige baan van die lewe waarin ons soos ’n rot moet hardloop om op die spinwiel te bly en dan beleef ons ’n seisoen waarin ons weer gewoond moet raak aan slow-living.

Nouja, soms is dit moeilik om jou lewensritme van die tempo in die vinnige baan na die stadiger beweegtyd te verander. Maar soms is dit nodig. Want soms hardloop ons vir te lank te vinnig. En dan … bring iets of iemand ons tot stilstand.

Dit maak nie regtig saak waar jy nou is nie, dit maak wel saak hoe jy die spoedmeter van jou lewe beheer. Dis belangrik om te weet wanneer jy oor die spoedgrens van jou lewe gaan sodat jy rem kan trap. Jy weet mos wat die gevolge van té vinnig-leef is!

Maar dis net so belangrik dat jy tyd maak vir die stadige-leef-fases: vir dié tye wanneer jy sonder druk die lewe in al sy fasette kan geniet. Wanneer jy tyd het vir dié dinge wat werklik saak maak.

Leef jou rotteresies-seisoen met versigtigheid en jou sklipad-fase met waardering. Albei kan vervullend wees.

Here Jesus, leer my om teen die regte spoed rég te leef.

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit Milanie Vosloo se boek: Laat sy Liefde jou Lei, publiseer. Ons dank aan Milanie Vosloo en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

milanie_boeke_advertensie

 

Skrywer: Milanie Vosloo