Laat sy Liefde jou Lei: Onthou om te onthou

Laat sy Liefde jou Lei: Onthou om te onthou – Milanie Vosloo

Onthou om te onthou

Hulle het gou-gou weer vergeet wat die Here gedoen het… Daar in die woestyn het hulle net aan hulself gedink. Psalm 106:13a,b

Ons vergéét! Nie net vergeet ons waar ons ons sleutels neergesit het nie, ons vergeet mense se name, verjaardae, dinge wat ons moet doen en belangrike inligting.

Kinders van God vergeet soms meer as net die plek waar ons ons bril neergesit het. Ons vergeet dikwels ons Vader se goedheid! Net so gou soos die Israeliete destyds gekla en in opstand teen hul omstandighede gekom het. Psalm 106 gee aan ons ‘n blik op die vergeet-pad van God se volk. Telkemale red die Here hulle wonderbaarlik en kort daarna kla hulle weer, aanbid hulle ander gode en ignoreer hulle sy voorskrifte. En keer op keer lees ons hoe God sy volk jammer gekry en hulle weer uit hulle gemors gered het.

Wanneer ons God se goedheid in ons lewens vergeet, van sy koers af raak en ons eie oordeel belangriker as sy wil ag, maak ons sy hart so seer. Want dan wéét Hy dat ons op ‘n ramp afstuur. En dan roep Hy ons met groot deernis na Hom toe terug: na die plek waar ons veilig is.

Waar is jy vandag? Op ‘n plek waar jy onthou hoe lief die Vader nog altyd vir jou was of op jou vergeet-stadium waar jy Hom aan sy goedheid twyfel?

Vader-God, help my om dwarsdeur my woestynreis te onthou dat U mý God was, is en altyd sal wees.

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit Milanie Vosloo se boek: Laat sy Liefde jou Lei, publiseer. Ons dank aan Milanie Vosloo en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za 

 

Skrywer: Milanie Vosloo