Laat sy Liefde jou Lei: Waarheen gaan jy onder druk?

Laat sy Liefde jou Lei: Waarheen gaan jy onder druk? – Milanie Vosloo

Waarheen gaan jy onder druk?

Maar Jesus sê vir hulle: “Waarom is julle so verskrik? Is julle geloof dan regtig so klein?” Daarna het Hy opgestaan, die wind en die see streng aangespreek en daar het ‘n groot kalmte gekom. Matteus 8:26

 

Soms plaas die lewe ons onder geweldige druk. Ons moet dalk meer doen as waartoe ons in staat is, ons moet ‘n pad loop waarvoor ons nie kans nie of ons moet dalk selfs vir ons lewe vlug. Soos Saddam Hoessein en Martin Luther al moes doen. Albei van hulle moes op ‘n stadium vir die twee magtigste leiers van hul tyd, gaan wegkruip. Toe Saddam vir George Bush en Tony Blair vlug, gaan kruip hy in ‘n rioolpyp weg. Daarteenoor lees ons hoe Martin Luther, in ‘n tyd toe die pous en keiser hom agtervolg het, in ‘n kasteel gaan werk. Daar, terwyl sy lewe bedreig word, besluit hy om die Nuwe Testament in Duits te vertaal.

 

Hoe ironies dat die vlugteling wat sonder die Here leef, in sy krisistyd net verder in die moeras afsak terwyl die kind van God net nog stérker op sy pos staan.

 

Onthou dat, watter druk jy ook al ervaar, jy as gesalfde van die Here, nooit alleen is nie. In jou grootste nood is God se genade sterker as ooit. Daar waar jy nie meer kan nie, sal Hy die pad vir jou oop maak en wanneer jy val, is sy hand reeds onder jou. 

 

Here van die Heelal, maak die storms in my stil en lei my asseblief na stille waters.

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit Milanie Vosloo se boek: Laat sy Liefde jou Lei, publiseer. Ons dank aan Milanie Vosloo en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za 

 

 

 


 

 Skrywer: Milanie Vosloo