Laat sy Liefde jou Lei: Wees jy die een wat uitreik

Laat sy Liefde jou Lei: Wees jy die een wat uitreik – Milanie Vosloo

Wees jý die een wat uitreik!

Mag ons Here Jesus Christus se onverdiende goedheid julle geestelik versterk. Filippense 4:23

Vriende van Christus is mense wie se harte warm vir Hom klop. Dis mense wat iets van sy grootheid en genade tasbaar in hul lewens ervaar het en wat daarom ‘n passie vir Hom het.

Daarom is dit ook vir hulle lekker om tussen ander gelowiges te wees en die gerusstelling van geestelike kameraadskap te ervaar. Ek en jy kan deur net ‘n paar dinge te doen, ‘n aktiewe rol speel in die versterking van die gemeenskap van gelowiges:

 

  • Bid vír ander. Ons kan deurentyd vir die geloofsfamilie – hulle wat ons ken én die wat ons nie eens ken nie – bid. Ons Vader hoor mos elke gebed van sy opregte kinders. Verál ook dié wat ons vir mekaar bid.
  • Bid sáám met ander. Gelowiges het mekaar se gebedsondersteuning en bevestiging so nodig. Die blote feit dat ons saam kan hande vat wanneer ons voor sy troon staan, is outomaties vir almal geloofsversterkend.
  • Reik uit na ander. Mede-gelowiges het mekaar se liefde en omgee nodig. Ja, ook in jou kring is daar mense wat voel dat hulle die stryd alleen stry. En wie weet, dalk is jy die een wat ‘n wonderlike verskil kan maak in daardie enkel-gelowige se lewe.

 

Moenie wag dat ander gelowiges jóú hand neem nie. Wees jy die Christus-vriend wat ander versterk en ondersteun met jou toegewyde gebede en onvoorwaardelike liefde.

 

Vader, wys aan my hoe ek ‘n vriend-in-U vir ander kan wees. 

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit Milanie Vosloo se boek: Laat sy Liefde jou Lei, publiseer. Ons dank aan Milanie Vosloo en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za 

 

 

 

 


 Skrywer: Milanie Vosloo