Laat sy Liefde jou Lei: Wees ‘n vredemaker!

Wees ‘n vredemaker!

 

Maar die wysheid wat van Bo kom, is in die eerste plek suiwer. Verder is dit vredeliewend, inskiklik, bedagsaam. Dit is bereid om deernis te bewys, en het goeie gevolge. Dit diskrimineer nooit en is altyd opreg.

Vrede is ‘n versamelwoord vir baie dinge soos kalmte, rustigheid, versoening en vreedsaamheid. Maar vrede is ook gelyk aan geluk. Want wanneer iemand in vrede met God, haarself en ander leef, kom woon sielsgeluk en ‘n gevoel van saligheid in haar. Wees daarom elke dag ‘n instrument van vrede:

  • Maak vrede met God. Doen dit deur jouself onvoorwaardelik in sy hande te plaas en te sê: “Here, dankie dat U my 100% vergewe het. Help my om vandag u wil myne te maak en dan daarvolgens te leef.”
  • Maak vrede met jouself deur jou tekortkominge en swakhede as klein struikelblokke te sien omdat jy die groter Jy-prentjie voor oё hou. Die volmaakte jý-mens wat jy in God se oё is nadat die bloed van die Lam oor jou gevloei het.
  • Maak vrede met ander mense. Om in onvrede en met onvergifnis teenoor ander te leef, is energie-dreinerend en aftakelend. Vrede daarenteen maak van jou ‘n gelukkige en tevrede mens.

 

Jakobus 3:18 lees: Die vredemakers saai saad van vrede; hulle oes omdat hulle reg lewe voor God. Bid dat die Gees jou met soveel liefde sal vul dat jy vandag met sy vrede sal leef: teenoor God, jouself en ander.

 

Vader, ek weet en glo dat ek deur U ‘n gelukkige en vredeliewende mens kan wees.


Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit Milanie Vosloo se boek: Laat sy Liefde jou Lei, publiseer. Ons dank aan Milanie Vosloo en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

milanie_boeke_advertensie


Skrywer: Milanie Vosloo