Leef uit jou Doop: 2.2 Vereniging met Jesus Christus

2.2 Vereniging met Jesus Christus

Dit is een van die wonderlikste betekenisse van die doop. Dit is ook die een wat die volledigste uitgewerk is. Dit is die kern van die klassieke doophoofstuk, Romeine 6, maar kom ook sterk na vore in ander dele soos Kolossense. Verder word dit natuurlik ook oor en oor met die geloof in verband gebring (oa Gal 2:19-20). Een van die sentrale gedagtes by Paulus, dat ons “in Christus” is, het presies dieselfde betekenis. Trouens “in Christus” is ’n deel van die hart van die evangelie soos Paulus dit verstaan het.

 

Romeine 6

Volgens Paulus is ons in Christus “in ge doop”, wat beteken ons is deur die doop met Hom verenig. Maar dit is dan ’n vereniging met sy hele lewe, verenig met sy kruisiging, dood, begrafnis en opstanding.

♦ Ons was saam met Hom aan die kruis (6:6),

♦ ons is in sy dood ingedoop (6:3),

♦ ons het deel aan sy begrafnis (6:4),

♦ en aan sy opstanding (6:4, 5, 8).

In later Briewe werk Paulus dit selfs nog verder uit.

♦ Ons het saam met Hom hemel toe opgevaar (Ef 2:6),

♦ ons is nou saam met Hom verborge in God (Kol 3:3),

♦ ons sal ook saam met Hom verskyn by sy wederkoms (Kol 3:4).

Dit dui op ’n omvattende vereniging met Christus wat ons deel gee aan sy hele geskiedenis. Op grond hiervan ontwikkel Paulus dan ons omvattende deelname aan die lewe van Christus. Hy doen dit met ’n paar begrippe:

♦ “Ons in Christus”.

♦ “Christus in ons”.

♦ “Ons saam met Christus”.

♦ “Ons deur Christus”.

Maar die basis van dit alles is dat God ons deur die doop (en die geloof) met Christus verenig het sodat ons aan sy lewe deelneem. Paulus kan selfs skryf dat hy nie meer sy eie lewe het nie omdat hy saam met Christus aan die kruis was, en dat hy nou net aan Christus se lewe deelneem, trouens dat Christus ons lewe is (Gal 2:19-20; Kol 3:4).

Vir ons lewe het dit (dit beteken ons doop!!) dus geweldige implikasies. Ons is dood vir die sonde, want ons was saam met Christus aan die kruis, en ons lewe net vir God omdat ons saam met Christus opgewek is en aan sy lewe deelneem, sy opstandingslewe wat Hy net aan God wy. Paulus vat dit alles só saam: Hy (Christus) het gesterwe en is eens en vir altyd vir die sonde dood. Nou lewe Hy, en Hy lewe vir God. Julle moet dus altyd onthou dat ook júlle vir die sonde dood is, maar vir God lewe, omdat julle een is met Christus Jesus (Rom 6:10-11).

Die feit dat ons nou vir die sonde dood is en net vir God leef, is nie ’n vanselfsprekende toestand nie. Dit beteken nie dat dit nou onmoontlik is om sonde te doen nie. Verhoudings werk nie só nie. Dit is egter die “wegspringblokke” van waar ons nou kan wegspring op die baan van die nuwe lewe. Ons is nou in staat gestel om met ons ou lewe op te hou en ons lewe volkome aan God te wy. En dis byna vanselfsprekend! Hoe kan iemand wat dood is, nog na sy ou baas (sonde) luister? (Rom 6:7)

Daarom vervolg Paulus direk na Romeine 6:11 met ’n opdrag: “Moet dan nie toelaat …” (Rom 6:12-14). Ons doop en geloof stel ons in staat om Nee te sê vir die sonde, en Ja vir God. Doen dit! Hou nou op met jou sonde, en wy jou lewe aan God. Jy kan, want deur jou doop is jy met Christus verenig sodat jy deel in sy dood vir die sonde en in sy nuwe lewe wat Hy net vir God leef. Leef in hierdie

verhouding met Hom. Hy wil deur jou met die sonde ophou en net vir God leef. Paulus skryf: “En nou is dit nie meer ek wat lewe nie, maar Christus wat in my lewe” (Gal 2:20).

Ontwikkel hierdie verhouding met Christus. Neem bewustelik aan sy lewe deel.

Kolossense 2-3

Dit is verrykend om nou in meer besonderhede te kyk na die merkwaardige manier waarop Paulus hierdie selfde saak verder ontwikkel in Kolossense. Sy uitgangspunt is dieselfde as in Romeine 6: Deur

die doop is die gemeente saam met Christus begrawe en opgewek (Kol 2:12). Maar wat net geïmpliseer was in Romeine, doen hy nou hier uitdruklik: Hy bring die geloof by. Immers die doop werk altyd in bepaalde verbande (hoofstuk 3), veral in die verband van die geloof.

En van hier af kry ons dan ’n geweldige gedagte-ontwikkeling oor ons nuwe lewe wat alles direk aan ons doop verbind word. Die sleutel om hierdie deel te verstaan, is om die voegwoorde te onderstreep wat telkens ’n deel uit die vorige een laat vloei:

♦ daarom (2:16),

♦ dus (2:20),

♦ aangesien (3:1),

♦ want (3:3),

♦ daarom (3:5),

♦ daarom (3:12).

Hierdie ses voegwoorde voeg hierdie deel in ’n eenheid saam tot een geweldige perspektief op ons nuwe lewe wat gegrond is op die doop en die geloof. Die punt is elke keer: Omdat julle gedoop is, is dit en dit die gevolg.

Kort saamgevat het ons die volgende.

2:16-19 Omdat ons gedoop is, is ons nie meer gebonde aan die talle voorskrifte oor kos en feeste soos die Sabbat in die Ou Testament nie. Christus oorheers nou die hele toneel. Later lees ons selfs: “Hier is Christus alles en in almal” (3:11).

2:20-23 Hier is weer ’n verwysing na ongeveer dieselfde soort voorskrifte. Omdat ons deur ons doop saam met Christus gesterwe het, staan ons nie meer onder allerlei wettiese voorskrifte nie.

3:1-4 Omdat ons deur die doop saam met Christus opgewek is, moet ons ons lewe op Hom rig en die dinge  “daarbo” soek waar Hy is, nie dié wat “op die aarde” is nie. Die rede is (“want”) dat ons deur die doop aan Christus se dood (3:3) en sy opstanding (3:1) deel gekry het en nou saam met Hom “verborge is” (weggesteek is) in God. (Hierdie “weggesteek wees” beteken dat ons lewe veilig by Hom is.) Ons vereniging met Hom beteken ook dat ons by sy wederkoms saam met Hom sal kom (3:4). Ons is immers reeds saam met Hom in die hemel! (Ef 2:6).

Is dit nie bietjie “dik vir ’n daalder” (te erg) nie? Dis ’n byna oorweldigende gedagte. Ek is nie eens seker ek weet regtig wat die implikasies daarvan is nie. Maar dit wys net hoe konsekwent Paulus dink aan ons vereniging met Christus. Ons het nie meer ons eie lewe nie. Hy is nou ons lewe. Ons neem dus nou aan sy lewe deel. En Hy is in die hemel by die Vader! Ons lewe is dus nou daar, al is dit

natuurlik ook nog hier, eenvoudig omdat Hy ook nog by ons op aarde is.

In hierdie lig is dit vir my die hoogtepunt van die hele doopsiening wanneer Paulus skryf dat Christus ons lewe is. Alles wat vooraf gaan én wat volg, vloei hieruit voort. As Hy ons lewe is, kan ons mos onmoontlik nog aanploeter in die sonde. As Hy ons lewe is, kan ons mos eintlik nie anders as om ons lewe volkome aan God te wy nie.

3:5-11 Met hierdie “daarom” maak Paulus nou sy oproep konkreet. Hierdie “daarom” is gebou op alles wat voorafgaan. Hy skryf nou uitdruklik hoe ons as gedooptes se lewe op grond van ons doop moet lyk. Die eerste wat hy duidelik maak, is wat “die aardse dinge” is (3:2) waarop ons lewe nie meer gerig moet wees nie. Dis nie sonder meer ons lewe op aarde nie, maar ons lewe in sonde. Daarom volg daar ’n hele lys sondes wat nou nie meer pas in ons lewe nie. Dis ons ou lewe.

Van 3:10 af gaan hy dan oor om ons nuwe lewe te beskryf. Hy beklemtoon dat ons lewe “al hoe meer vernuwe word” wat beteken dat alles nie van die eerste dag af in plek val nie, dat ’n gedoopte baie te leer het, en baie te oefen het in die nuwe lewe.

3:12 en verder Na die beskrywing van dit wat nie meer pas nie, die sonde, is hier nou ’n oproep tot die dinge “daarbo”. As ’n mens mooi hierna kyk, sien jy maklik dis eintlik dieselfde as Galasiërs 5:22-23 se vrug van die Gees. Daarvan moet die gedoopte se lewe uiteindelik vol wees.

Kolossense 2-4 is die breedvoerigste bespreking van die lewe van die gedoopte. Dit is ’n lewe in gemeenskap met Jesus Christus en dit word gekenmerk deur die vrug van die Gees.

Uit Romeine 6 en Kolossense 2-4 leer ons dat ons gewone siening van die doop ver onder die maat van die Nuwe Testament is.

Maar daar is nog veel meer.


leefuitjoudoopMense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike doop. Leef uit jou Doop (2011) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die doop.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za


Skrywer: Prof Adrio König