Leef uit jou Doop: 2.3 Inlywing in sy liggaam, die kerk

2.3 Inlywing in sy liggaam, die kerk

Hierdie betekenis is nie naastenby so sterk ontwikkel soos die vorige een nie. Ons kry dit net een keer duidelik by Paulus: “Ons is almal deur een Gees gedoop in Christus se liggaam (in)” (1 Kor 12:13, NLV). Maar dis eintlik ’n logiese uitvloeisel van ons vereniging met Christus. Aangesien God ons deur die doop in Christus inlyf, is dit tog vanselfsprekend dat ons ook in sy liggaam opgeneem word, die kerk.

Maar hiermee kom ’n belangrike saak na vore. In die vorige betekenis het dit gegaan om ons verhouding met Christus, nou gaan dit om ons verhouding met ander gelowiges. En dié twee verhoudings is onafskeidelik van mekaar. Ons kan nie in gemeenskap met Christus leef

sonder om ook in gemeenskap met sy kinders te leef nie. Ons is immers almal deel van een liggaam.

En Paulus werk die beeld van die liggaam baie konsekwent uit. Elke gelowige is ’n lid in sy liggaam.  Dit beteken die gelowiges het mekaar onderling nodig. Ons ontvang elkeen ’n gawe van die Gees waarmee ons mekaar moet bedien (1 Kor 12).

Daar is ’n sin waarin die ander betekenisse van die doop geleidelik uit hierdie een kon ontwikkel het. Ons moet onthou dat alle geloofsake en gebruike nie van die eerste dag na die koms van die Gees af duidelik en klaar uitgewerk was nie. Daar was duidelike ontwikkelings in die tyd wat die Nuwe Testament geskryf is. Ons het reeds gekyk na die feit dat die apostels aan die begin die kruis net as ’n wandaad, selfs ’n moord, gesien het. En dat eers na jare Paulus die eerste was wat die heilsbetekenis van die kruis begin verkondig het.

Daar is min twyfel dat die doop ook nie van die begin af al die betekenisse gehad het wat ons later kry nie. Waarskynlik was die doop aan die begin veral die opname in die klein geloofsgemeenskap wat Jesus as Messias en Here bely het. Gaandeweg kon die ander betekenisse na vore gekom het, soos die inlywing in die verbond (omdat die gelowiges die nuwe vorm van die ou verbondsvolk was), die vereniging met Christus (omdat  die geloofsgemeenskap sy liggaam was). Omdat die geloofsgemeenskap deel in die heil, het die doop as inlywing in hierdie gemeenskap mense deel gegee aan die versoening en die vergifnis van sonde.

Dit alles is egter maar net ’n gedagte. Ons weet nie regtig veel van hierdie ontwikkeling nie. Maar ons weet wel die betekenis van die doop het gaandeweg al ryker geword.


leefuitjoudoopMense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike doop. Leef uit jou Doop (2011) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die doop.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za


Skrywer: Prof Adrio König