Leef uit jou Doop: 2.5 Vergifnis en reiniging van sonde

2.5 Vergifnis en reiniging van sonde

Ons lees herhaaldelik dat ons deur die doop gereinig word van ons sonde, en Petrus verwys na die vergifnis van sonde deur die doop. Maar juis die presiese woorde wat hier geskryf is (“deur die doop gereinig”), lok baie sterk reaksie by sommige mense uit. Hulle sien hierin ’n bedreiging van die werk van God en van Christus. Dit is nie die doop wat ons reinig nie, word gesê, want net Christus kan ons deur sy bloed reinig (Barth).

Hierdie beswaar sou natuurlik teen elkeen van die betekenisse van die doop geopper kon word, maar dit kom nogal meermale juis in verband met die vergifnis ter sprake. En natuurlik is dit volkome waar dat net Christus ons deur sy bloed (dood) kan reinig, of dat God ons vergewe en reinig op grond van die bloed (kruisdood) van Christus (1 Joh 1:9).

 

Maar intussen lees ons herhaaldelik van reiniging en ook vergifnis deur die doop.

♦ Petrus sê volgens die Grieks: “Laat elkeen van julle … gedoop word tot vergifnis van julle sonde” (Hand 2:38).

♦ Ananias sê vir Paulus: “Laat jou doop en jou sondes afwas … ” (Hand 22:16).

♦ Paulus skryf self vir die Korintiërs: “Maar julle het julle sonde laat afwas, julle is geheilig … ” (1 Kor 6:11) en dan verwys hy na die doop.

♦ Ons kry dieselfde gedagte ook in Efesiërs 5:25-26 en in Hebreërs 9-10.

Hoe moet ons dit nou verstaan? Reinig God en Christus ons nou deur die bloed van Christus, of reinig die doop

ons?

Maar dis tog ’n vreemde teenstelling: God óf die doop, Christus óf die doop. Net soos die geloof is die doop tog ’n heilsmiddel in God se hand waardeur Hy ons in die heil laat deel. Net soos die geloof ons nie red nie, maar Godons deur die geloof red, reinig die doop ons nie, maar reinig God ons deur die doop, en Hy doen dit op grond van die dood/bloed van Jesus. Trouens die vertalers het dit terég so ingeskryf in Handelinge 2:38. Ons het reeds gesien die Grieks lui: “Laat elkeen van julle … gedoop word tot vergifnis van julle sonde”, terwyl 1983 vertaal met: “Laat elkeen van julle gedoop word … Dan sal God julle sondes vergewe.” Dit is nie ’n sogenaamde letterlike vertaling nie, maar ’n korrekte vertaling omdat dit inderdaad die betekenis korrek weergee.

As Ananias dan vir Paulus sê: “Laat jou doop en jou sondes afwas” is dit tog net ’n kort manier om te sê: “Laat jou doop sodat God deur die doop jou sonde kan afwas op grond van die offer wat Jesus aan die kruis vir jou sonde gebring het.” Hierdie langer omskrywing kom mooi na vore in Efesiërs 5:26: “Nadat Hy die kerk met die water en die woord gereinig het.” “Water” is hier eintlik “waterbad”

wat duidelik na die doop verwys. Dis interessant dat ook die “woord” (die boodskap, die evangelie) hier as ’n heilsmiddel genoem word. (Ons kry dit ook elders, soos in Johannes 15:3.) Hier staan dus dat God ons deur die doopen die woord/evangelie reinig.


leefuitjoudoopMense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike doop. Leef uit jou Doop (2011) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die doop.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za


Skrywer: Prof Adrio König