Leef uit jou Doop: 2.8 Wat beteken die Doop dan?

2.8 Wat beteken die doop dan?

Kom ons probeer nou ’n oorsig kry van die ryk betekenis van die doop wat ons in die Nuwe Testament gekry het.

God handel in die doop

Dit is die eerste en oorweldigende indruk uit die betekenisse van die doop. Ons kan hulle een vir een nagaan.

♦ Ek kan nie myself in Christus inlyf en myself deel gee aan sy kruis, begrafnis en opstanding nie. Net God kan.

♦ Ek kan nie my eie sonde vergeef nie.

♦ Ek kan nie myself tot eiendom van God maak nie.

♦ Ek kan nie myself inlyf in die verbond nie.

♦ Ek kan nie self God se gesag oor my lewe afkondig nie.

So kan ons aangaan, maar dis reeds duidelik: In die doop is dit God wat handel. Dit is tog ook waarom ons die doop ’n sakrament noem, net soos die nagmaal. In beide handel GodHy lyf ons in die  gemeente in (die doop), enHy voed ons op ons geestelike pad (die nagmaal).

Die dopeling is passief in die doop

Dit kan misverstaan word. In die doopvoorbeelde van die Nuwe Testament is daar natuurlik aktiwiteit van die dopeling. Hy/Sy moet glo, hy/sy mag vra om gedoop te word. Maar dit is vóór-aktiwiteit. In die doop self handel net God. Dit leer ons uit die betekenisse van die doop. Daarom word daar altyd in passiewe vorms oor die dopeling gepraat. Iemand word gedoop, iemand word met

Christus verenig, iemand word in die gemeente/verbond opgeneem. Dis nooit iets wat iemand self doen nie, maar altyd iets wat hy/sy ondergaan. Dit is ook die rede waarom ek nie myself kan doop nie. Dit word aan my gedoen.

As die doop my antwoord aan God was, kon ek mos myself gedoop het. Dit sou dan mos my antwoord wees. Die eintlike en belangrikste aktiwiteit van die dopeling kom juis ná die doop. Dan begin die nuwe lewe. Lees maar net die lang vermanende dele aan die einde van Briewe soos Efesiërs en Kolossense. Dit gaan alles oor wat ek na die doop moet doen.

Die samehang tussen die betekenisse

Die doop het ’n merkwaardige ryk betekenis, eintlik ’n sestal verskillende betekenisse. Maar hierdie betekenisse hang met mekaar saam. Eintlik vorm hulle een groot geheel: Hoe ons deel kry aan die heil: vereniging met Christus, sondevergifnis en reiniging, inlywing in die liggaam van Christus en die verbond, ontvangs van die Gees.

Die doop is eenmalig

Daarom word ’n persoon ook net een keer gedoop. Dit hang saam met die betekenis van die doop. Al die verskillende betekenisse het met die begin van die Christelike lewe te doen. Die nagmaal is vir die dag tot dag voortlewe in die gemeente. Daarom is voedsel (brood en wyn) ook die elemente in die nagmaal. Daar word ons gevoed om die Here voortdurend te kan dien. Maar by die doop is dit water. Die water het met wassing te doen, en verwys na die bloed van Jesus.

Gou gedoop – Onderrig ná die doop

Die doopvoorbeelde kry ons in Handelinge. Maar daar  is eintlik géén onderrig voor die doop nie. Paulus doop  die Romeinse tronkbewaarder om middernag net na hy tot bekering gekom het. Die onderrig geskied later in die Briewe. En onthou die Briewe is geskryf aan gemeentes. Die lidmate was klaar gedoop. Dit klop met die gedagte hierbo dat die groot aktiwiteit van die dopeling juis ná die doop kom. Dan moet hulle uit hulle doop leef, en daarvoor het hulle nodig om te leer wat dit beteken.

Wat ’n uitdaging om ook maar net iets van hierdie ryk betekenis van die doop in ons eie lewe te integreer!


leefuitjoudoopMens wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike doop. Leef uit jou Doop (2011) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die doop.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za


Skrywer: Prof Adrio König